riviersonderend

George groet

with 4 comments

Ek glo nie in lang afskeidsbriewe nie. Hierdie blog se eerste inskrywing was in Desember 2006 en ek is dankbaar dat ek hier met al my stront kon stoei en soms net sommer simpel kon wees.

Maar tyd staan nie stil nie. Nog minder mense. Ek weet nie hoe om hier aan te hou skryf nie. Alhoewel ek van die blog se naam hou, dink ek dit is gepas dat dit aan George behoort.

Diegene wat nog steeds hier gelees het: dankie.

Dit is egter nie die einde van my avonture in blogland nie. Inteendeel. Die rivier sal onder ander name aanhou vloei – ‘n vooruitsig waarna ek uitsien. Net sonder die bagasie van wat was.

Die enigste rede hoekom ek nog nie begin het nie, is omdat ek nog oor een aspek wroeg (ja, sommige dinge verander nie).

Ek weet nie of ek nog in Afrikaans wil skryf nie? Ek het vir ‘n wyle twee blogs oorweeg, een in Afrikaans en een in Engels. Ek weet egter dat ek net aan een sal aandag gee.

Miskien is dit nie net tyd vir ‘n nuwe blog nie, maar ook vir ‘n nuwe taal?

Written by George Maru

17 Junie 2012 at 19:10

Posted in algemeen

DEUS EX MACHINA – II

with 9 comments

Ek sit op die persiese tapyt en kyk na Moeder Maria teen die muur. “Gee jy om as ek rook?’ vra my shrink. Sy sit met haar rug teen die stoel en reik na die Camel Lights op die koffietafel. “Wil jy een hê?” Ek sê dat ek nie rook nie, maar gee maar. “Hoekom is jy hier?” wil sy nou weet. Eintlik wonder ek self. Hoe verduidelik ek dat ek deur my tweede midlife crisis gaan op 32? Ek sou dog dit raak beter, maar die een voel erger as my eerste op 25.

Dit voel soos gister toe ek deur my tweede midlife krisis gewerk het met die hulp van tarotkaarte, past life regressions en boeke oor argetipes wat jou jou plek in die universe wys. Nou is ek weer hier. Maar die keer is dit tyd vir die ware Jakob. Toe was dit soveel makliker. Die krisis het na my toe gekom. Nou moet ek die krisis loop soek.

Ek gaan vra vir antwoorde by Wikipedia. Die Wikipedia artikel oor midlife crisis begin nie belowend nie: “Academic research since the 1980s rejects the notion of midlife crisis as a phase that most adults go through.” As daar dan so iets is, affekteer dit blykbaar minder as 10% van volwassenes in Amerika waar die studies gedoen is.

Gedrag wat mens tipies by hierdie mense kan verwag:
• Hulle begin te veel drink;
• Hulle kry depressie;
• Hulle koop motorfietse, motorbote, sportkarre, duur juweliersware, of kry tattoes;
• Hulle begin klere dra wat hulle nie pas nie of kam die bleskolle toe;
• Hulle begin verhoudings met jong bokkies.

Opsies. Ek hou daarvan. Alhoewel alkoholmisbruik en depressie buite die kwessie is, want ek sien nie kans vir die emosionele drama wat dit vereis nie. Daar was ‘n tyd wat ek ‘n motorboot ernstig oorweeg het, maar my entoesiasme het te gou getaan. Sportkarre maak my nie opgewonde nie. Spoed laat my koud. ‘n Tattoe kan werk, maar waar ek ‘n tattoe wil hê, sal bitter min mense te siene kry. En wat is ‘n midlife crisis nou sonder toeskouers?

Dalk ‘n affair met ‘n 22-jarige? Ek dink terug aan toe ek 22 was. Miskien is daar 22-jariges wat meer uitgesorteer is as wat ek was op 22. Ek was ‘n mess. Nie eers ‘n hot mess nie, net ‘n mess. Nee wat, en dan moet jy ook nog emosioneel beskikbaar wees.

Die opsies lyk nie baie belowend vir iemand wat gedetermineerd is om ‘n krisis te hê nie. Daar is egter een opsie wat ek nog glad nie oorweeg het nie: ‘n motorfiets, m.a.w. ‘n doodskis op wiele.

Motorfietse. Kon nog nooit verstaan wat mense daarin sien nie. Hulle lawaai, motorfietsryers is hooligans en hulle almal wil net groot tiete op bikes sien. Vreemde spul.

Hoe dit dan gebeur het, dat ek nou hier – dolverlief – sit en skryf, is nog onduidelik.

Ja, mense sal sê dit is net ‘n masjien. Maar hierdie tweewiel het ‘n siel. Haar naam is Leila.

Written by George Maru

22 April 2012 at 20:50

Posted in algemeen

DEUS EX MACHINA – I

with 4 comments

Dit gebeur seker maar as mens desperaat raak. Jy google die wye internet vir dealers en gaan deur foto’s asof dit suiker in ‘n Coke-fabriek is. Maar ek het vyf dae laas my fix gehad en ‘n man is mos nie ‘n klip nie.

Of dit die onttrekkingsimptome was, sal ek nie weet nie, maar ek dink onwillekeurig terug aan my universiteisdae. Toe het ek rondgerits in karre met name. Soos Ahasveros, Maleagi en Nebukadneser. Heel heilig. Dit was nou as ek saam met vriende gery het. Die blou volla was dan of buite aksie of ek was buite aksie of ons was meer as agt mense.

Karre en name. Ek kon dit nog nooit verstaan nie. Moenie verkeerd verstaan nie. Ek raak emosioneel-geheg aan my ryding. My rooi Honda het ek vir oor die 300,000 km gery voor ons paaie geskei het. Dit was nogal traumaties. Nie dat ek ‘n scene gemaak het nie. Ek het in die nuwe ryding geklim, weggery, en gewonder wat nou met my rooi Honda gaan gebeur? Ag, mag dit tog nie vir drag racing of spaarparte gebruik word nie. Ek kan daardie oomblik van selfverwyt en verlies as emosioneel beskryf.

Dit is net vir my vreemd om die ding ‘n naam te gee. Dalk omdat ek nog nooit into karre en rygoed was nie? Die nuwe ryding sou ook naamloos bly, het ek my trots voorgeneem. Ek gee nie karre simpel name nie. Tot daai dag toe ek besluit om op ‘n roadtrip na McGregor te gaan.

“Ek gaan McGregor toe. Cynthia stel belang om ‘n kothuis daar te koop. Is jy lus om saam te ry? Hoor sommer ook by A of sy lus is vir ‘n trip. Ek het vir Cynthia gesê sy moet ook self gaan kyk. Ek weet nie of sy van McGregor gaan hou nie. Dit is anders.”

Hoe is dit moontlik dat so ‘n eenvoudige boodskap met net een tussenganger so onherkenbaar vermink kan word dat A vra: “Hoekom wil jy spesifiek McGregor toe ry? Dit maak sin dat jy bietjie met Sylvia wil ry, maar waarom McGregor?” “Wie is Sylvia?” vra ek nou verward. “Jou nuwe bakkie,” lig A my in.

Nee.

Nee.

Nogmaals, nee.

Nee.

‘n 4×4 bakkie met ‘n naam? Sylvia?!

My protestasies was tevergeefs. Ek kan uitwei oor die fases van ontkenning, skok, onderhandeling, en woede waardeur ek moes worstel. Ek gaan nie.

My naam is George en ek ry ‘n bakkie genaamd Sylvia. Die naam het net gebeur.

Written by George Maru

11 April 2012 at 18:45

Posted in algemeen

(geen titel)

with 7 comments

Good grief.

‘n Mens draai skaars jou rug, en as jy terugkom, vind jy dat alles verander het. WordPress is nie meer heeltemal soos ek dit onthou nie. Nie dat ek kla nie. Sê maar net.

Ek sien die kategorieë wat ek geskep het, is nog hier. Maar as ek so daarna kyk, besef ek een ding: ek is volledig verveeld met die dinge waaroor ek eens op ‘n tyd geskryf het. En met my opinies.

Maar ek is lus om weer te blog.

Written by George Maru

19 Februarie 2012 at 18:33

Posted in sommer net

Hallo wêreld!

with 5 comments

Om Stephen Sondheim aan te haal: “I’m still here!”

Take it away Elaine…

I've been through Reno.
I've been through Beverly Hills,
And I'm here.

Reefers and vino,
Rest cures, religion and pills,
And I'm here

Been called a pinko
Commie tool,
Got through it stinko
By my pool.

I should have gone to an acting school.
That seems clear,
Still, someone said, 'She's sincere,'
So I'm here.

Written by George Maru

22 Mei 2011 at 8:48

Posted in musiek

Tagged with ,

0. riviersonderend – in die begin

with 2 comments

– ‘n Blognovelle in dele –

Bloed vloei in stilte – Vincent Oliphant

***

It isn’t enough for your heart to break
because everybody’s heart is broken now – Allen Ginsberg

Written by George Maru

5 Februarie 2011 at 12:48

Posted in novelle

Geseënde Kersfees, hoenners!

with 5 comments

Ja, ek weet daar is nog 21 dae voor Kersfees. Maar as die shopping malls al Jingle Bells, kan ek seker maar al “Geseënde Kersfees” sê. Buitendien voel dit net reg om dit nou te doen, want mens weet nooit wanneer kom ek weer eendag by die blog uit nie.

Written by George Maru

4 Desember 2010 at 21:11

Posted in algemeen

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.