riviersonderend

Archive for the ‘sommer net’ Category

(geen titel)

with 7 comments

Good grief.

‘n Mens draai skaars jou rug, en as jy terugkom, vind jy dat alles verander het. WordPress is nie meer heeltemal soos ek dit onthou nie. Nie dat ek kla nie. Sê maar net.

Ek sien die kategorieë wat ek geskep het, is nog hier. Maar as ek so daarna kyk, besef ek een ding: ek is volledig verveeld met die dinge waaroor ek eens op ‘n tyd geskryf het. En met my opinies.

Maar ek is lus om weer te blog.

Written by George Maru

19 February 2012 at 18:33

Posted in sommer net

Kalahari.net FAIL

with 2 comments

Uhm, ek glo nogal daarin dat mens in besigheid moet besef wat jy goed doen en daarop fokus. As jy bloot iets doen om iemand anders na te aap (sê maar Amazon.com), dan is jy nie besig om waarde toe te voeg nie, en kan jy jou besigheid waarskynlik eerder skade berokken.

Kalahari.net is duidelik nog besig om deur Recommendation Engines for Dummies se inhoudsopgawe te werk (kliek op die foto vir ‘n groter weergawe).

Written by George Maru

14 February 2010 at 8:51

Posted in sommer net

Tagged with , , ,

Inhoud is steeds koning

with 2 comments

Teen die tyd is dit nie meer ‘n geheim dat bedrywe wat inhoud skep in ‘n krisis verkeer nie. Platemaatskappye, uitgewers en koerante se besigheidsmodelle is in so ‘n mate deur die internet omvergewerp dat mens wonder of hulle sal oorleef. Ek het al genoem dat ek nie meer koerante koop nie. Nie net is dit moeite om een te gaan koop nie, maar aai, daai kitsch Pick-n-Pay advertensie in die middel! En koerante is soos DStv – jy stel net in 5% van die inhoud belang. (Ek voorsien dat DStv ook in die nabye toekoms met ‘n krisis gaan sit, wag maar. En niemand sal dit meer verdien as DStv nie.) Buitendien, inligting is mos gratis, so waarom daarvoor betaal? Reg?

Daarom het dit my gister effe verras toe ek besef het dat ek vandag op ‘n maandelikse basis meer betaal vir inhoud as nog ooit in my lewe. Die verskil is net dat ek nie papier kry in ruil daarvoor nie. Musiek is nie besig om te sterf nie. Mense verloor nie belangstelling in nuus nie. Kennis het nie uit die mode gegaan nie. Uitgewers, koerante en musiekmaatskappye se besigheidsmodelle wel.

Die probleem is dat mens vandag tot baie meer inhoud toegang het as ‘n paar jaar gelede. Musiek het ‘n kommoditeit geword. Dit word verbruik. En teen die tempo wat ‘n mens musiek verbruik, is dit eenvoudig te duur en onprakties om elke keer ‘n CD aan te skaf.

Dieselfde probleem met boeke. As ek elke liewe boek moet koop en op ‘n boekrak stoor waartoe ek toegang wil hê, sal ek ‘n skuur moet bou wat ‘n boeing kan stoor. En ek kan ook nie bekostig om ‘n paar honderd rand vir elkeen te betaal nie. Een van die mees innoverende produkte wat die lig gesien het betreffende die uitgewersbedryf, is Safari Online. Teen ‘n maandelikse subskripsiefooi bied hulle jou toegang tot die katalogusse van sowat 20 uitgewers van boeke wat oor tegnologie handel.

Ek het ook nooit gedink dat ek vir inhoud sal betaal op my foon nie. Totdat ek McSweeney’s, ‘n onafhanklike uitgewer, se iPhone app ontdek het. Time het dit onlangs aangewys as een van die jaar se top 10 iPhone apps. Met goeie rede. Jy betaal ‘n minimale subskripsiefooi en ontvang dan allerlei interessante artikels, van comic strips, onderhoude, kortfilms, humor tot kortverhale (sowat 100 iPhone bladsye). Skielik het dit ‘n plesier geword om op plekke te moet wag! Die subskripsiefooi is min genoeg dat mens nie omgee om te betaal nie en dit is beslis die moeite werd.

Tegnologie het soveel geleenthede geskep vir skeppers van inhoud. Maar om dit raak te sien, sal jy moet afstand doen van jou idee dat jy R160 vir ‘n CD vra en R250 vir ‘n boek. Inhoud word goedkoper namate mense meer daarvan verbruik.

Written by George Maru

22 December 2009 at 7:06

Posted in sommer net

2010: Is jy gereed?

with 10 comments

Ek sal erken dat ek nie ‘n groot sokker aanhanger is nie. Maar dan, ek is nie so ‘n groot sportsfan nie. Wel, ten minste nie nou nie, met die dat WP in ‘n rolbalklub verander het. Daar was selfs ‘n tyd wat ek gedink het ek gaan my uit die voete maak tydens die 2010 Wêreldbeker.

Nie meer nie! By die onlangse daknatmaak van die nuwe stadium in Kaapstad het ek die kans gehad om die stadium van nader te sien. Nou ja, ek weet ek was nog nie in al die bekendste stadiums in die wêreld nie, maar ek kan darem redelik praat van Suid-Afrika, insluitende Ellis Park, Loftus, Nuweland en Soccer City in Soweto. En ek wil beweer dat dit sonder twyfel een van die mooiste stadiums in die wêreld moet wees. As jy buite die stadium staan, kyk jy uit oor die Atlantiese oseaan. As jy binne sit aan die noordekant, loer Tafelberg vir jou.

‘n Paar feite oor hierdie wonderlike stadium:

  • Daar is plek vir 68,000 toeskouers.
  • Jy kan al 4 hoeke van die speelveld sien vanaf enige sitplek in die stadium.
  • Die stadium is so ontwerp dat as jy opstaan om na ‘n kiosk te gaan en in ‘n tou staan, jy steeds die speelveld kan sien.
  • Die dak het geen pilare wat dit ondersteun nie.
  • Dit het R 4.4 miljard gekos om die stadium te bou.
  • Die buitekant bestaan uit ‘n poreuse veselglasagtige kleed wat gebruik kan word om die stadium te kleur en soos ‘n lantern te laat gloei.

Dit is seker nie te veel gevra om te hoop vir ‘n U2 konsert in die stadium nie?

 

Written by George Maru

26 November 2009 at 21:05

Ich bin ein Afrikaner

with 18 comments

Oor die hele debat oor godsdiens in staatskole (so ver dit my kennis strek gaan die debat nie oor privaatskole nie), wil ek myself nie uitlaat nie. Die gesprek is so belaai met emosie dat ek dink sinvolle, rasionele gesprek bykans ontmoonlik geraak het.

Nietemin.

Ek het begin om Rapport se webblad te lees, nie soseer vir die nuus nie, maar die kommentaar daarop. Ek gee werklik nie om om te weet dat daar nou ‘n Afrikaanse porno is nie, of dat Joost van der Westhuizen se skoonouers sy huwelik probeer ondermyn nie, of dat Coligny se NG kerke op dieselfde dag basaar hou omdat hulle mekaar nie like nie en dat die dominees mekaar wil bliksem nie. Ek wonder dan wel, is ons regtig so kômmin?

In elk geval, terug na die kommentaar. Ene Hans lewer as volg kommentaar op die godsdiensdebat in vandag se Rapport:

“Afrikaner” ateis, jy wil saam met hierdie patete werk! Doen dit, voel vry, maar noem jouself asb. nie dan Afrikaner en dan boonop nogal `n “trotse” een nie! Die term “Boer” en “Afrikaner” word gekoppel aan Christelikheid. Indien jy `n siellose ateis is, noem jouself dan eerder `n Suid – Afrikaner. `n Afrikaner sal jy nooit wees nie! Jy is nie welkom nie en is `n verleentheid solank jy `n Godlose bleeksiel is!! Jy is `n verraaier van die ergste graad – erger as die “joiners” tydens die ABO!!!

Die Afrikaner is nie meer net ‘n Corne of Pieter Mulder nie. Hulle verteenwoordig lank nie meer ‘n monolitiese groep wat grootgemaak is (met apologie aan Koos du Plessis) om te veg vir volk en land en staat en die party. Die sleutels van die Afrikanerkoninkryk behoort ook nie meer aan hulle nie. Die Afrikaner is vandag meer divers as ooit en ‘n reënboog in eie reg in die reënboognasie.

Ek is ‘n Afrikaner. En ek reis deur die wêreld.

Sonder ‘n pas.

Written by George Maru

27 September 2009 at 19:35

Posted in sommer net

Tagged with

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.