riviersonderend

Archive for the ‘afrikaans’ Category

As jy ‘n song was…

with 19 comments

As jy jouself in een song kon opsom, watter song sou dit wees?

Written by George Maru

26 February 2008 at 6:52

Posted in afrikaans, musiek

Tagged with , ,

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

with 2 comments

Elisabeth Eybers is dood. Woorde is daar nie. Ek laat haar self spreek. Die gedig van ‘n moeder aan haar kind, kom uit Valreep/Stirrup-cup (2005).

VIR BERT

Noudat jy swyg is daar niks meer
vir my om ooit nog te begeer
buiten die tydstip waarop ek
dieselfde stilte mag betrek.

Written by George Maru

3 December 2007 at 8:18

Toentertyd, Beaufort-Wes

with 4 comments

die sleepwaentjie is die aand voor die tyd gepak (dit was nie ‘n ventertjie nie – pa het dit self gemaak) sodat ons betyds 4 uur die oggend in die pad kon val beaufort-wes toe waar oom r gewag het dat ons sy jongste vonds van hoenderpastytjies en eetgoeterjies kon uitprobeer en oe en ah oor hoe lekker dit eet terwyl ons swembroeke aantrek om kort daarna deur die druiwe-prieël te hardloop na die sementdam kompleet met climax sodat ek en boeta lekker moeg die aand in die chev-stasiewa aan die slaap kon raak saam met ben omdat honde nie in die huis mog kom nie en ben nie ‘n nag buite alleen sou oorleef nie het ons nie omgegee nie want later as die son skyn sien oslerstraat, stilbaai-oos ons weer

en dit was beaufort-wes

In 1995 ontvang Gert Vlok Nel die Ingrid Jonker-prys vir sy bundel om te lewe is onnatuurlik. Hy skryf onder andere oor Beaufort-Wes en treine.

i dag iewers êrens wie onthou

ons het seks gehad.
ek wou iets fluister vir die okkasie

maar het wyslik geswyg
dit was my eerste keer.

joune ook, so’t jy geknik.
hoe moes ek weet ek’s so dom.

ek was 23, jy 19.
goeie leeftyd, goeie tye, veral daai 19 -

die môre het ons romanties ver in die wêreld aan’t kitty gevind.
daar was i irrelevante doringboom langs die kar.

en jy’t my hare gestreel, of onthou ek.
jy’t nooit i dooie woord gesê die hele tyd nie.

en nooit gelag nie.
en nooit gehuil nie.

skielik was daar i dringende klop wie de moer.
“julle’s op private property” (i fokken woedende boer).

naderhand het ons     reën geloop     die veld     die dam
gesien hoe vertak i bloekom teen die grimmiger lug.

en by sy huisie, herinnerend en nie, was Oupa in sy teer lyf
êrens subtiel & brutaal sterwend, in alle erns.

en elders mooi Naatjie     haar kamer     wat oop wakker skrik
see & land & lug in haar vreesbevange blik.

maar hier het ons nie geweet nie.
hulle was oor die horison na gister of môre.

Written by George Maru

6 September 2007 at 20:33

Posted in afrikaans, kuns, poësie

Tagged with

O, Anna jy’s my blom!

with 3 comments

Dit is een van die dae die Rugby Wêreldbeker. Suid-Afrika het ook ‘n span ingeskryf vir die okkasie.

Eintlik is ek huiwerig om weer ‘n sport-post te maak, want my vorige een is volledig geïgnoreer. Ek gaan egter nie voorspellings maak oor wat gaan gebeur nie, want ek het nog nie die sterre geraadpleeg nie.

Ek sal eerder ‘n lysie maak van die top 5 spanne waarvan ek hou en wie ek wens moet wen:

1. Suid-Afrika; Frankryk
3. Nieu-Seeland
4. Ierland
5. Australië

Hoe cool sal dit nie wees as 4 van die spanne die halfeinstryd haal nie!

En nou terug na die week van poësie. Verlede jaar het Antjie Krog uit haar nuwe bundel, Verweerskrif, voorgelees tydens die Versindaba. Ek weet nie of dit poëties korrek is om ‘n bundel as “pret” te bestempel nie. Verweerskrif is pret. En briljant. En al die ander byvoeglike naamwoorde wat pas by een van ons grootste, lewende digters.

Ek sou graag Manifes van ‘n Ouma wou plaas, maar dit is te lank en ek te lui.

vertrekkende

‘n kind vertrek. ek bly staan. bekende
oë groet voordat die donkerbril.
hande wat op die sitplekgordel soek.
die straat verlate. ek waai waai. dis of

alle lig taan. of alles killer wil. of my hart
die blaam weier. alles wat gesê moes
word. na elke vertrek beraam ek taal.
om te verduidelik. hoe om volgende keer.

die gevoel van skroei deur my ribbes. ek
onderneem om maniere te vind. om wat
ons bind verbaal te uiter. so min is dit

wat jy wil hoor. die ongesêde bloedbelope
desperaat gemikte vuishou. of dit die smoel
voluit tref. jissis! ek bloei, kind.

Written by George Maru

5 September 2007 at 21:27

Posted in afrikaans, kuns, poësie

My nagte saam met Van Wyk

with 8 comments

Daar was ‘n tyd in my lewe wat ek myself geprostituseer het vir ‘n warm bed, ‘n stukkie brood en sjekel-koepons. In ruil daarvoor het ek bedags ‘n blou pakkie aangetrek, eiers uitgepak vir Ida, potte geskrop en Maandae – as ek gelukkig was en die faait met A. gewen het – pizza gemaak.

Die lewe van ‘n kibboetsniek op die kibboets Ma’anit, naby Hadera, was nie maklik nie. Veral nie as jy in die kombuis gewerk het nie. Dit was egter nie so erg soos arme Sarah wat suicidal hoenners moes veg vir hulle eiers nie. Sy het dikwels verloor.

My lewe het aansienlik makliker geraak, nadat die kokke besluit het om nie langer direk met my te kommunikeer nie. Opdragte is via A. aan my oorgedra. Maar dit is ‘n ander storie. Ek is blykbaar effe s-l-o-w. Dit het veral gebeur as iemand op my gegil het.

Ida, ‘n 42-jarige kibboetsniek en moeder van Brasilië, was in beheer van ontbyt. Die hoofkok het haar uitgetrap as sy mooi, heel eiers gebruik het. Net die verleptes was goed genoeg vir die mense, totdat Ida een oggend bemoerd al die eiers gebreek het, en uitgeroep het: “There! Now they are all broken!” Dit was die einde van die eieruitsoekery.

Op die kibboets het ek ‘n vegetariër geword, nadat ek en A. ontelbare kalkoene moes opsny vir goulash. Dit was te veel. Die visopkappery was erger, omdat jy – sonder handskoene – moes vroetel vir die vis in houers met arktiese water in. Aangesien ons in die land van wonderwerke was, is dit seker geen verrassing dat daar altyd nog vis was. Sug. Die water het ook nie warmer geword nie. Wonderwerke voorwaar. Maar die ergste was die Superette-advertensie wat elke 5 minute oor die radio geblêr het.

Tot 2 uur die middag. Dan is jou tyd jou eie en spring jy op die bus om die land te sien. Caesarea, Nasaret, Netanya ens. Jy gaan kyk na waar Armageddon gaan plaasvind, loop deur funny tonnels, besoek die Lebanon-grens (ja, ek het gevaarlik geleef), sit op busse langs meisies wat hulle gewere skoonmaak (ja, ek het gevaarlik geleef) en word nog pie-ende uit ‘n bushalte se toilet deur soldate verwyder. Bomdreigement (shit, ek was jonk!). Net soos laerskool op “Sowetodag”.

Good grief.

Saans het ons Goldstar bier gedrink, terwyl A. van Barcelona my Spaans geleer het en L. oor ‘n cute Spaanse outjie gekwyl het. Ons sou ook op onwettige plekke gaan stort.

Later, wanneer ‘n baldadige maan reeds hoog gehang het, en sorgelose kibboetsnieks skelm oor die heining geklouter het om in die swembad te fornikeer, het my vingers hulle weg gevind na NP van Wyk Louw se Versamelde Werke. Eers het ek effe skuldig gevoel dat ek eerder dit wou lees as die Bybel. This also came to pass. Van Wyk Louw se verse het my stiltetyd geword in daardie rondomtalie-seisoen. Die oorgawe was volkome.

Ek het gelees, gesien, gedoen, ervaar.

Ek is mens. Goed en sleg. In ‘n wêreld, groter en interessanter as my wildste drome. Welkom, groot seun.

XVII

Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.
(Uit: Tristia) *

***

As ek so dink

As ek so dink dat ek jou nooit weer sien,
dat jy voortaan vir my ‘n herinnering
sal wees wat valer word tot ek miskien
- as die ouderdom sy dowwe wysheid bring -
jou naam en die grysblou van jou oë vergeet,
vergeet jy was vir my in plaas van God,
en flouweg praat, soos een wat alles weet
van kinderliefde en nóu sien dis verspot; -
dan gaan ek langs afgrondelike weë:
hoe trots het andere voor my ook gedink
hul het die liefde wat onsterflik is,
en ek, late vaarder, God, op hierdie seë,
moet glimlag dat daar haat en liefde is
waar alles in die eeue moet versink.
(Uit: Die Halwe Kring)

* Ek het al hier oor Catullus se gedig “odi et amo” geskryf waarna hierdie gedig verwys.

Written by George Maru

4 September 2007 at 22:27

Posted in afrikaans, kuns, poësie, sommer net

Tagged with

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.