Archive for Julie, 2009

Kla liewers op die internet

Ek is seker enige persoon wat al deurgeloop het onder lugrederye se “gee-nie-’n-hel-om-nie” houding, kan met Dave Carroll simpatiseer. Sy kitaar is beskadig deur United Airlines se personeel tydens ‘n vlug van Kanada na Nebraska in die VSA.

Natuurlik het hy gekla en geëis dat hulle betaal om dit te laat regmaak. Soos enige goeie lugredery betaam, het hulle net hul gatte daaraan afgevee. Wel, tot onlangs. Carroll het ‘n song oor sy ervaring geskryf  (‘n countrysong! ), ‘n video gemaak en dit op Youtube geplaas.

Nadat dit nou reeds deur 4 miljoen mense gesien is, is United “jammer”. Hulle het aangebied om hom te vergoed vir die skade, maar Carroll het gesê hulle moet maar die geld vir liefdadigheid gee.

Hier is “United breaks guitars”. :lol:

Comments (10)

Ek het my opinie oor die doodstraf verander

Vir baie lank het ek ‘n baie duidelike standpunt oor die doodstraf gehad: ek was gekant daarteen onder alle omstandighede. Ek dink egter nou dat daar wel misdade is waarvoor die doodstraf gepas is.

Ek was nog nooit daarvan oortuig dat die doodstraf  as ‘n afskrikmiddel dien vir mense om misdaad te pleeg nie. Daarvoor is daar te veel voorbeelde van lande en state waar die doodstraf wel op de wetboek is maar onder meer geweldsmisdaad gebuk gaan as lande en state waar die doodstraf afgeskaf is. Verder dink ek ook nie dat my redenasie op alle lande en plekke van toepassing gemaak kan word nie. Dalk gaan Europa nie soveel baat om weer die doodstraf in te stel nie.

Maar ek is oortuig daarvan dat ons op die oomblik in Suid-Afrika met sulke uitsonderlike omstandighede gekonfronteer word, wat ‘n uitsonderlike reaksie vra. Ek is ook bewus daarvan dat mense kan verander. Dit is dan ook wat my laat huiwer het om die doodstraf te ondersteun.

So ‘n ruk gelede was ek in die bevoorregte posisie om te hoor hoe voormalige misdadigers wel verander het en ek is heeltemal oortuig dat die ommekeer 100% eg is. Dit is ‘n voorreg om te kan sien hoe mense hul lewens omgekeer het. Maak nie saak wie of wat jy was nie, jy kan iets anders word. En ja, die samelewing faal hierdie mense al te dikwels deurdat hulle steeds verwerp word en nie toegelaat word om suksesvol weer in die samelewing te integreer nie.

Maar dit verander nie die feit dat die meerderheid van geweldsmisdadigers nooit sal verander nie. Hierdie verkragters, moordenaars en dwelmhandelaars verdien niks minder as die doodstraf nie. Dit is die mense wat die doodstraf verdien: verkragters, moordenaars en dwelmhandelaars.

Iemand wat aanhou om moord te pleeg, verdien nie nog ‘n kans nie. Iemand wat nog ‘n kind se lewe verwoes met dwelms, verdien nie nog ‘n kans nie. Iemand wat aanhou om vroue en kinders te verkrag, verdien nie nog ‘n kans nie. Hulle verwoes nie net hulleself en hulle slagoffers se lewens nie. Hulle verwoes ook ons almal se toekoms want hulle vernietig die land se jeug.

En dit is lankal nie meer ‘n geïsoleerde geval hier en daar nie. Te veel van ons land se kinders word ingesuig in die spiraal van geweld en dwelms wat hul lewens verwoes. En wanneer ons land se toekoms so bedreig word, word die hoop op die rehabilitasie van ‘n enkele moordenaar, dwelmhandelaar of verkragter ‘n luukse wat ons nie nou kan bekostig nie.

Comments (16)