riviersonderend

Archive for February 2009

We had joy, we had fun, we had seasons in the sun

with 14 comments

My lief, dit is nou tien jaar later en vanaand sal ons laaste aand saam wees. Ek onthou nog die eerste keer wat ek jou gesien het op die hoek van Duncan- en Schoemanstraat. Ek het jou gesien en gewéét: ‘Jy is myne!’Alhoewel jy nie heeltemal gelyk het soos dit wat ek gedink het ek soek nie, het jy my nooit teleurgestel nie. Nooit nie! Selfs nie daardie nag in Victoria-Wes toe jy effe koud was nie.

Die afgelope tien jaar het jy my lewe gedeel. Toe ek per ongeluk my klere voor die lewendige webcam uitgetrek het in die huis in Stanley Road, was jy daar. Jy was daar toe ek G by die V&A opgetel het voordat sy al ons geld die aand by Bronx uitgedrink het. Nieteenstaande jy het ons veilig by die huis besorg.

Onthou jy die aand toe ek W na die naaste 24-uur dierehospitaal in Panorama moes vat? Wat sou ek sonder jou gedoen het? En nooit het jy gekla as jy W met sy nat sandlyf moes abba nie. My lief, daar is nie baie soos jy nie.

En nou. Vanaand.

Wat ‘n verrassing toe jy onthul dat jy daai langverlore gedig vir jy-weet-wie gebêre het! Ja, die een oor die onbeholpenheid van ‘n orgasme waarin ek snik dat ek nooit jy-weet-wie se Lorca sal kan wees nie. Maar ja, dit is die een geskenk waarmee Liefde my altyd laat: twyfelagtige poësie.

Ai my lief, hoe vinnig het die tyd nie gevlieg nie. Môre moet ek doen wat mans begin doen op my ouderdom: jou inruil vir ‘n nuwer model.

Totsiens dan, my lief!

Onthou net die goeie tye:

Written by George Maru

18 February 2009 at 19:55

Posted in sommer net

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.