Archive for November 1st, 2008
“Ken ek vir Jesus?” vra ‘n man op die stoep
Opsoek na spiritualiteit, Deel I
“Kom saam met my die naweek,” het ek vir M gevra. “Hillbrow toe.”
M het deur ‘n moeilike tyd gegaan. Haar verhouding met K, haar eerste liefde, was verby. Sy het hom ontmoet toe sy nog op skool was.
Sy het ingestem en ek het haar Vrydag na klas opgelaai en ons is Hillbrow toe vir ‘n ontmoeting met Jesus in my metallic blou VW Beetle wat ook bekend was as die pregnant Porsche oor die vlerk op die stert.
Ons moes 18.00 by MES (1) aanmeld, maar het eers so 19.30 daar opgedaag en die hele praise and worship gemis. Ek was nog nooit in Hillbrow nie en het duidelik nie geweet waar dit was nie. Ek wou ook nie vir aanwysings stop nie, en genadiglik was M te besig met die post-mortem van haar nuutgevonde sekslose lewe om my aan te moedig om by elke petrolpomp te stop vir aanwysings. Ons sal daar kom as ek net die regte afdraai neem.
So leer ken ek vir Empireweg, Auckland Park, en Newtown, maar Smit-, Twist- en Quartzstraat ontwyk my. Totdat ek stop en vir aanwysings vra.
Die naweek was ‘n skok. Vir die eerste keer sien ek ‘n man wat in die straat lê en ‘n bloedstraaltjie wat van sy kop pad vind in ‘n sementgroefie van die sypaadjie. Niemand stop nie. Almal loop aan. Ek bevind myself in ‘n winkel en wonder of daai goed mens se sekslewe regtig beter sal maak. Alles is vuil. Jy mag nie alleen in die strate gaan loop nie. Ek hoor van ou mense wat hondekos eet. Orals is prostitute. Maar ek praat nie met hulle nie. Eers twee jaar later vertel ek een van Jesus in Riebeekstraat, Kaapstad. Sy vertel my sy is Maria, Jesus se moeder. Ek sê vir haar sy laster en ons praat nie meer nie.
Ek lees ‘n boekie wat verduidelik hoe geloof jou kan help om die mure wat jy om jou hart bou af te breek. Die skrywer praat van Jerigo se mure. Ek blaas ramshorings om my mure af te breek. Rooi in die gesig, vind ek uit dat ek nie kan nie. Wat sal gebeur as die muur wat ek wil afbreek veroorsaak dat jy ‘n muur hoër as Jerigo s’n gaan bou om dit dan die “skanse van jou geloof” te noem?
Die waarheid is dat godsdiens nie mure kan afbreek nie. Dogma bou mure rondom mense en gemeenskappe. Godsdiens is eksklusief, verdelend en vreesgedrewe.
Onlangs gebeur dit dat ek weer in die kerk land. (Solank mense doop, trou en doodgaan, sal mens seker nooit heeltemal ontslae wees van die kerk nie
) Nadat ek gaan sit het, val die gemeente se waardes op ‘n bord voor in die kerk, my dadelik op. Veral twee waardes staan uit: “verdraagsame omgee” en “waardeer diversiteit”. Dit laat my frons. Hoe kan ‘n kerk beweer dat dit verdraagsaamheid bevorder en diversiteit waardeer? Dit is waardes wat direk teenoor godsdiens staan. Dit is nie moontlik om vas te hou aan ‘n geloof se dogmatiese suiwerheid en waardes soos diversiteit te verkondig nie. Dit geld enige geloof, nie net die Christelike geloof nie.
Die sentrale vertrekpunt van die wêreld se groot teïstiese godsdienste is ‘n aanspraak op ‘n onbewysbare waarheid, uniek en eksklusief. Dit vra navolgers om sekere leerstellinge te aanvaar op grond van sogenaamde geopenbaarde waarhede. Om blindelings te glo word ‘n deug. ‘n Mens kan argumenteer dat dit seker nie problematies is nie, solank dit nie skadelik is vir jou medemens nie. Dit betwyfel ek. Godsdiens kan nie net sleg vir jou gesondheid wees nie, maar ook vir diegene rondom jou.
Mitroff maak die opmerking: “To worship a particular form of God and in a particular way is, consciously or not, to reject others.” Wanneer iemand my vra of ek vir Jesus ken, dan vra hulle nie net om met my hul ervaring van die Groot Misterie te deel nie. Die vraag hoop implisiet dat ek oortuig sal word om “ja” te sê vir Jesus. Maar ‘n “ja” vir Jesus binne die konteks van godsdiens en geloof is ook ‘n “nee” vir Boeddha, Rumi, Krishna en Gandhi. Deur op hierdie eksklusiwiteit aan te dring, word daar onderskei tussen die uitverkore groep wat reg glo en die res wat verkeerd is, en noodwendig oortuig moet word van hul sogenaamde verlorenheid. Mense word gereduseer tot sendingobjekte.
Hierdie eksklusiwiteit lei tot verdeeldheid en die mentaliteit dat “ons reg is, al kan ons dit nie bewys nie, en andersdenkendes behoort soos ons te dink.” Geloof hou die hoop uit dat dit mure tussen mense sal afbreek. Maar hierdie hoop is, soos geloof en Goddelike liefde, voorwaardelik: slegs binne die geloofsgemeenskap kan mure afgebreek word, maar dan ook gedeeltelik. Die kunsmatige skanse wat tussen die “wêreld” en die geloofsgemeenskap opgerig word, word elke dag versterk. Dit verdeel mense en ontken ons gemeenskaplike menslikheid wat ‘n brandoffer word om God te behaag.
Hoekom mense tot sendingobjekte reduseer wat oortuig moet word van onbewysbare waarhede? Vrees.
Ek weet dat baie gelowiges dadelik vies word as mens beweer dat godsdiens vreesgedrewe is. Ek wil verder gaan dat dit ook ‘n bron van negatiwiteit in mense se lewens is. Daar word verskeie voorbeelde van God se liefde genoem as die beweegrede vir ‘n geloofsoorgawe. Ek hou vol dat die saad van vrees sentraal staan in baie gelowe (definitief die Christelike geloof). Reeds in die Apostoliese Geloofsbelydenis tref ons dit aan: “vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewendes en die dodes”.
Die God wat ons in die Bybel, Talmoed en Koran leer ken (2), verteenwoordig nie die beste waarop ons kan hoop en waarna ons moet streef nie. Hoe meer ek bewus word van die grootsheid en onpeilbaarheid van die heelal waarin ons leef, hoe meer primitief en kleinlik word die God van die die heilige boeke in sy optrede en uitsprake. Dink vir ‘n oomblik aan die volgende. Daar is ‘n 100 miljard sterre in die Melkweg. Daar is moontlik 125 miljard Melkweë in die heelal. Dit beteken dat daar meer as 10,000,000,000,000,000,000,000 sterre in die heelal is. Daar word gesê as elke persoon die geleentheid kry om sy deel van sterre in die heelal ‘n naam te gee en ‘n ster ‘n naam gee met elke hartklop, dit elke persoon op aarde 375 leeftye sal neem om sy sterre ‘n naam te gee.
Daar word beweer dat hierdie oneindig-fassinerende heelal deur ‘n Skepper gemaak is; ‘n Skepper wat hom elke dag ophou met mense en hul doen en late; wie met wie seks het; wie teen sy naam laster; wie wat dink oor Hom; wie op watter manier doop; wie nie doop nie; wie dink hy is een of drie; wie ‘n ketter is en wie nie; wie vir Jesus ken en wie nie. So kan mens aangaan. Die Skepper van 10,000,000,000,000,000,000,000 sterre? Om nie te praat van al die wonders op hierdie planeet van ons nie? En ons wil die sin van die lewe en die essensie van dit wat belangrik is, definieer in ons geloofsdogma? Ons wil ‘n God aanbid wat aanbidding eis as voorwaarde vir sy liefde en die onbeskryflikste straf uitdeel aan diegene wat nie inkoop op die homogene droom nie? En ons noem dit liefde. Get real.
Hoeveel mense vrees nie by hulle naderende dood dat hulle nie goed genoeg was vir God nie? Watter interne wroeging veroorsaak dit nie? Hoeveel mense kan nie die mure tussen hulle en medegelowiges afbreek nie, uit vrees vir die veroordeling wat wag omdat hulle ontmasker sal word as ontoereikend in hul geloof? Hoekom wil mens na die lewe kyk deur ‘n prisma van negatiwiteit? Ironies word mense so gewoond daaraan, dat hulle dit nie meer opmerk nie.
Ek sit in die kerk en wonder oor die kerk se diversiteit en verdraagsaamheid, terwyl die dominee preek. Die preek gaan oor positiwiteit en ek is nogal verbaas, want ek kan met heelwat identifiseer wat sy sê. Die invloed wat ons gesprekke om die etenstafel op mekaar het en hoe ‘n atmosfeer van negatiwiteit (veral oor SA en die land se situasie) ons en ons kinders beïnvloed en ‘n negatiewe spiraal skep wat almal aftrek. Daarom is dit nodig om soms vir ‘n oomblik stil te staan. Fokus op jou asemhaling om jou te laat dink aan jou gedagtes. “Ek weet u mag nou dink dat dit gevaarlik baie soos meditasie is. Maar nee, dit is nie Oosters nie.” En daar is die waardering vir diversiteit in sy moer. Maar dit is seker ook maar reg so, want Oosterlinge is onder die invloed van die Satan en moet gered word. En so, sonder enige moeite, word die medemens se menslikheid gereduseer en ontken.
Na die preek word daar gedoop. “Glo jy dat jou kind in sonde ontvang en gebore is?” skop die dominee die partytjie af op ‘n positiewe noot. ‘n Nuwe geslag word met skuldgevoelens grootgemaak sodat oplossings vir ‘n probleem wat nie bestaan nie, aangebied kan word. The show must go on!
Die eksklusiewe, verdelende, vreesgedrewe en negatiewe atmosfeer waarin geloof gedy, is meestal nie prominent op vertoon nie, maar is subtiel ingeweef as die goue drade van die geloofskleed. Dit skuil agter die masker van omgee. Omdat ek nie wil hê dat jy moet hel toe gaan nie, hoop ek jy sal soos ek begin dink. Vir jou eie beswil. Maar hoe kan ons ooit na ons volle potensiaal as mense streef in die hoop dat ons die beste waartoe ons in staat is kan realiseer, as ons fondasie op vrees gegrond is? “Ek kies vir u, want ek wil nie hê u moet my straf nie.”
Nee wat, daar moet ‘n beter alternatief wees.
Ek hoor klaar dat mense my beskuldig dat ek onregverdig is en die positiewe impak van geloof ontken. “Maar wat van MES en Hillbrow? Wat van die goeie werk wat hulle daar doen?”
Ja, wat van Hillbrow?
____________________
(1) Vanaf hul webwerf vir diegene wat onbekend is met Metro Evangelisasie Sorg (MES): “MES reik uit na alle mense ongeag ras, kultuur, godsdiens, geslag of seksuele oriëntering. Ironies genoeg is dit juis dié sake wat soveel tyd en energie op sinodes en kerkvergaderings in beslag neem en waaroor dikwels ure lank driftig gestry word. In Hillbrow se donker stegies lyk sulke sake glad nie belangrik nie. Dit is onwerklik om die sin van sulke argumente te verstaan wanneer jy die geweldige nood om jou gadeslaan. Meisies van so jonk as twaalf jaar oud maak ’n lewe uit prostitusie teen so min as R20 per kliënt.”
(2) Ek besef dat hierdie stelling ‘n oorvereenvoudiging is, aangesien ‘n Bybelse siening van God eintlik ‘n illusie is: daar bestaan nie so iets nie, wel ‘n dogmatiese interpretasie van wie God in die Bybel is. Daar is wel ‘n Pauliniese Godsbeskouing, Prediker se Godsbeskouing ens. Hierdie Godsbeskouings verskil egter radikaal van mekaar.