Archive for September 2008
Musiek vir jou iPod
As ek nie my plig nakom en die musiek van The National aan almal wat wil luister bekendstel nie, gaan ek soveel slegte karma versamel dat ek my volgende lewe as ‘n pterodaktiel gaan deurbring.
Ek is absoluut gek na Matt Berninger, die hoofsanger, se baritonstem. Dit is musiek waarna jy op jou iPod kan luister as jy deur die strate loop sonder om regtig na enige iets te kyk.
Daar is diegene wat beweer hulle lirieke is obskuur en stuurs. Ignoreer hulle.
Ek kon nie kies watter video om te plaas nie, toe plaas ek twee, alhoewel Slow Show dalk tog my gunsteling is.
Hier sing hulle Slow Show:
En hier sing hulle Apartment Story:
Sit dit af! Sit dit af!
Gaan orkaan Sarah die VSA verwoes?
Mense. Ek kan nie langer stilbly nie, ten spyte van die beste intensies. ‘n Mens behoort nie ‘n moordkuil van jou hart te maak nie. Dus. In die gevleuelde woorde van Uil (of was dit Trapsuutjies?): “Ek wil iets sê en ek gaan dit sê.”
Sarah Palin.
Ja, daai een.
Ek hou nie van haar nie. Ek laaik haar fokol.
Net toe mens gedink het dit is nie moontlik om meer regs en onnadenkend as Shrub te wees nie (ok, Pat Buchanan tel nie, want hy het 10 jaar terug al seniel geraak), toe ontwikkel tropiese storm Sarah in die noorde.
Ek verpes populisme en populiste. Daarom hou ek nie van Jacob Zuma of Hugo Chavez nie. Hulle sê net wat mense wil hoor, sonder om werklik erns te maak met oplossings vir probleme. Daarom hou ek nie van Sarah Palin nie.
Sarah Palin het haarself oor en oor bewys as ‘n populis vir die religious right van Amerika. Sy wou as burgermeester boeke uit die biblioteek laat verban en sal dreig om jou te ontslaan as jy haar teenstaan. Sy meen ysbere behoort nie as ‘n bedreigde spesie beskou te word. Daar is mos baie, ten spyte van navorsing wat dui op die ysbeer se twyfelagtige toekoms. Sy wil Alaska die speelveld van die wêreld se oliebaronne maak.
In die jaar 2000 was daar een dorp in Alaska waar slagoffers van verkragting moes betaal vir rape kits. Die dorp? Wasilla. Die burgemeester? Sarah Palin. Sy meen verder dat slagoffers van verkragting hul verkragter se baba nie mag arborteer nie. Sy roem haar op haar patriotisme, maar ken nie basiese feite van die Amerikaanse geskiedenis nie. Haar man het met die Alaska Onafhanklikheidsparty gesimpatiseer wat afskeiding voorstaan en baie onvleiende dinge te sê het oor Amerikaners.
Hoe meer mens oor die vrou lees, hoe banger behoort mens te raak. Ek weet nie of sy al ooit enige beleidsbesluit geneem het nie, nadat sy dit rasioneel goed deurdink het.
Oor haar privaatlewe wil ek nie eers praat nie. Sy was al wel op elke tabloid in Amerika se voorblad. Vi al die verkeerde redes. Interessant, as haar tienerdogter swanger raak, dan is dit ‘n privaat familie-aangeleentheid volgens haar ondersteuners. As Britney Spears se suster swanger raak, dan lê die fout by die ouers. Aldus die ondersteuners. O ja, Sarah meen die enigste seksvoorligting wat skoolkinders moet kry, is om hulle te vertel om nie seks te hê nie. As sy nie eers die boodskap by haar eie dogter kan tuisbring nie, watse kans het Amerika met hulle simpel “abstinence” programme? Hallo! Dit werk nie. Maar nou ja, dit is wat die ondersteuners wil hoor.
Die lys gaan egter aan – daar is ook die Troopergate skandaal. Lyk my Sarah is nogals iemand wat graag dreig om mense te ontslaan as hulle met haar verskil…
Hoe op dees aarde kan Sarah Palin ‘n moontlike vise-kandidaat wees vir die wêreld se magtigste land?
Something is rotten in the state of America.
Vreugde!
Ek is mal oor goeie kortverhale. Die kortverhaal as genre word, na my mening, heeltemal onderskat. Dit toets skrywers se woordvernuf, want jy kry nie veel woorde om te sê wat jy bedoel nie. Goeie kortverhaalskrywers skets wêrelde, karakters en intriges met min woorde.
Na my mening is Annie Proulx een van die heel beste kortverhaalskrywers vandag. (Good grief, moenie nou vra wie sy is nie! Maar as jy regtig nie weet nie: sy is die skrywer van die roman, The Shipping News, wat verfilm is – sy was egter nie mal oor die eindproduk nie. Later is een van haar kortverhale, Brokeback Mountain, ook verfilm.)
Annie Proulx het die kortverhaal vervolmaak in haar bundels Close Range: Wyoming Stories en Bad Dirt: Wyoming Stories 2 oor die lewe in Wyoming (‘n staat in Amerika wat bekend is vir sy cowboys). Sy skryf onsentimenteel en is genadeloos met haar karakters. Die New York Times skryf oor hierdie stories: “But each of these collections bears Proulx’s brand of hard drama, hard irony, hard weather, and hard and soft characters blown about and many times destroyed by the powerful mix. Her sense of story is admirable, her sentences are artful, and she writes like a demon.“
Sy is snaaks. Sy is donker. Sy skryf kompak. Sy skets mense in situasies buite hulle beheer teen die agtergrond van ongenaakbare en majestueuse landskappe.
Nou hoekom Annie Proulx se lof nou besing? Sy bring ‘n nuwe bundel kortvehale uit, getiteld: Fine Just the Way It Is (wat volgens die New York Times geparafraseer kan word as “Even if it’s broken, don’t fix it.”). En dit handel weer oor die lewe in Wyoming! Yay! As sy nou net ‘n bundel oor die landelike bestaan in Alaska wil skryf. Ek verstaan daar is goeie materiaal vir menige stories.
O ja, en diegene wat dink hulle is te oud om te begin skryf: Annie Proulx het eers in haar 50s begin skryf.

