riviersonderend

Archive for Junie 16th, 2008

Lambertsbaai: In Niemandsland; het ek verdwaal?

with 12 comments

Vir Katryn

Moet nooit dat ‘n inwoner van Clanwilliam jou vertel dat die pad na Lambertsbaai gelyk is nie.

Dit is nie.

Jy is nog skaars buite Clanwilliam, dan begin die pad opwaarts kronkel. Weliswaar kan dit seker nie met die Pakhuispas vergelyk nie, maar nietemin. Moenie dink as jy uiteindelik tot bo gewroeg het, die einde in sig is nie. Nee, dan lê die rollende heuwels uitgestrek, terwyl die wind jou van voor nader wink.

Die vrou by die gastehuis het seker maar besluit ons lyk vir haar te moedeloos en dat ons nou al te gatvol van fietsry is, dat sy nie vir ons gaan vertel dat die 50 kilometer nie heeltemal die piekniek gaan wees waarop ons gehoop het nie. Dit is dieselfde vrou wat tydens ontbyt aangekondig het: “Ons bedien vandag roereiers. Wil julle eet?”

By die gastehuis in Lambertsbaai kon ons nie gou genoeg van ons bagasie ontslae raak nie. Twee dae van soete rus. Ons is strand toe, het geswem en tot die konklusie gekom dat dit nie ‘n goeie idee was nie. Ons het Goue Vallei wyne gedrink.

Saans het ons onder die sterre gesit en souskluitjies eet, na ‘n uitgerekte brassery. Ons het Goue Vallei wyne gedrink in plastiekglase met geel stele.

Die eerste oggend het almal wat fietsgery het (mans en vroue) by die plaaslike haarkapper aangemeld vir ‘n nommer een skeer. Ek besef weer dat jy nie sukkel met ‘n vrou nadat jy haar hart in 1000 stukkies fyngetrap het nie. Blykbaar skitter jou 1999 Honda blinkvosperd nie meer so blink in lilac nie. Of mauve. Of een of ander nie-primêre kleur.

Soggens, as ek vir die ander wag gesels ek met Katryn by ontvangs. Katryn sê ons is gelukkig om in die Kaap te bly. Op Lambertsbaai gebeur daar niks nie. Jy hoop net elke dag dat jy daar kan wegkom. Daar is niks vir die jongmense nie. Geen vooruitsigte nie. Ek weet nie, dink ek, behalwe vir die visfabriek wat stink en moegoe’s op die strand met hulle oorverdowende kattebakmusiek, hou ek van die dorp. Dit is naais. Elke drankwinkel hou Goue Vallei wyne aan.

***

Ek is weer op Lambertsbaai met die Kreeffees. Bedags duik ons kreef wat ons dadelik gaarmaak en eet. Ek ontdek ek is meer bloeddorstig as wat ek sal toegee in beskaafde geselskap. Ons loop rond en luister Worsie Visser. Ek gee my hand vir Boesmanland en drink Goue Vallei Sauvignon Blanc.

As dit aand word, en die braaivleisvure aangesteek word, stap ons Voëleiland toe en praat oor die tema van my preek vir die troue. Ek dink ek gaan in elk geval my eie kop volg.

Ek sit en kyk vir die voëls en dink weer aan Katryn. Ek wonder of sy toe ooit Kaap toe is. Of het sy gebly op Lambertsbaai?

Hoe bly jy as jou hart reeds aangestap het en vir jou wink?

Written by George Maru

16 Junie 2008 at 19:37

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.