Archive for Junie 2008
Business as usual
Iewers in Afrika…
Thabo Mbeki, Robert Mugabe en Ton Vosloo sê hulle sê oor gebeure in Zimbabwe…
Jandré de Milander, besturende direkteur van Paarl Web, reageer as volg op ‘n vraag oor hoe hy voel dat die Naspers-filiaal werk vir Zanu PF gedoen het:
It is irrelevant what my feelings now are. This has nothing to do with you. Is ZanuPF a terrorist organization? Why shouldn’t we do business with them? I have nothing further to say to you. I can’t give you any further comment.
‘n Man wat aan geen rede kan dink om nie met moordenaars en verkragters besigheid te doen nie, het wragtig geen morele kompas oor nie.
Mugabe se “dogs of war”
Wat het Ton Vosloo en Thabo Mbeki in gemeen? Beide ondersteun Mugabe se verkragting van sy land.
Dit het onlangs aan die lig gekom dat die Naspers-filiaal Paarl Web maar te gewillig was om R 3 miljoen te neem van Zanu PF vir verkiesingspropaganda. Eers is Caxton genader om die werk te doen, maar hulle het dit van die hand gewys, nadat dit aan die lig gekom het dat dit werk vir Zanu PF is.
Paarl Web se uitvoerende hoof, Stephen van der Walt, het die arrogansie om te weier om kommetaar te lewer.
Nou ja, wat kan ‘n mens verwag van ‘n maatskappy wat ‘n geskiedenis het van ‘n gebrek aan enige morele oordeel.
Ek weier om langer op enige manier so ‘n maatskappy te ondersteun. Nie net sal ek nie langer enige van hulle publikasies (Die Burger, Beeld, tydskrifte soos Visi ens.) ondersteun. Voortaan sal ek ook nie meer enige Afrikaanse skrywer lees wat by Tafelberg of enige ander Naspers filiaal publiseer nie.
Ander Naspers-filiale waarvan ek my volledig distansieer sluit in DStv, M-Net, News24, Litnet, Mweb, Media24.
Daar is genoeg goeie leesstof beskikbaar dat ek werklik nie nodig het om mense te ondersteun wat met Mugabe in die bed spring nie.
Hoe sieklik kan ‘n maatskappy wees om enigiets vir geld te doen?
Lambertsbaai: In Niemandsland; het ek verdwaal?
Vir Katryn
Moet nooit dat ‘n inwoner van Clanwilliam jou vertel dat die pad na Lambertsbaai gelyk is nie.
Dit is nie.
Jy is nog skaars buite Clanwilliam, dan begin die pad opwaarts kronkel. Weliswaar kan dit seker nie met die Pakhuispas vergelyk nie, maar nietemin. Moenie dink as jy uiteindelik tot bo gewroeg het, die einde in sig is nie. Nee, dan lê die rollende heuwels uitgestrek, terwyl die wind jou van voor nader wink.
Die vrou by die gastehuis het seker maar besluit ons lyk vir haar te moedeloos en dat ons nou al te gatvol van fietsry is, dat sy nie vir ons gaan vertel dat die 50 kilometer nie heeltemal die piekniek gaan wees waarop ons gehoop het nie. Dit is dieselfde vrou wat tydens ontbyt aangekondig het: “Ons bedien vandag roereiers. Wil julle eet?”
By die gastehuis in Lambertsbaai kon ons nie gou genoeg van ons bagasie ontslae raak nie. Twee dae van soete rus. Ons is strand toe, het geswem en tot die konklusie gekom dat dit nie ‘n goeie idee was nie. Ons het Goue Vallei wyne gedrink.
Saans het ons onder die sterre gesit en souskluitjies eet, na ‘n uitgerekte brassery. Ons het Goue Vallei wyne gedrink in plastiekglase met geel stele.
Die eerste oggend het almal wat fietsgery het (mans en vroue) by die plaaslike haarkapper aangemeld vir ‘n nommer een skeer. Ek besef weer dat jy nie sukkel met ‘n vrou nadat jy haar hart in 1000 stukkies fyngetrap het nie. Blykbaar skitter jou 1999 Honda blinkvosperd nie meer so blink in lilac nie. Of mauve. Of een of ander nie-primêre kleur.
Soggens, as ek vir die ander wag gesels ek met Katryn by ontvangs. Katryn sê ons is gelukkig om in die Kaap te bly. Op Lambertsbaai gebeur daar niks nie. Jy hoop net elke dag dat jy daar kan wegkom. Daar is niks vir die jongmense nie. Geen vooruitsigte nie. Ek weet nie, dink ek, behalwe vir die visfabriek wat stink en moegoe’s op die strand met hulle oorverdowende kattebakmusiek, hou ek van die dorp. Dit is naais. Elke drankwinkel hou Goue Vallei wyne aan.
***
Ek is weer op Lambertsbaai met die Kreeffees. Bedags duik ons kreef wat ons dadelik gaarmaak en eet. Ek ontdek ek is meer bloeddorstig as wat ek sal toegee in beskaafde geselskap. Ons loop rond en luister Worsie Visser. Ek gee my hand vir Boesmanland en drink Goue Vallei Sauvignon Blanc.
As dit aand word, en die braaivleisvure aangesteek word, stap ons Voëleiland toe en praat oor die tema van my preek vir die troue. Ek dink ek gaan in elk geval my eie kop volg.
Ek sit en kyk vir die voëls en dink weer aan Katryn. Ek wonder of sy toe ooit Kaap toe is. Of het sy gebly op Lambertsbaai?
Hoe bly jy as jou hart reeds aangestap het en vir jou wink?
D-dag kom nader
Dinsdag 17 Junie word Firefox 3 bekendgestel. Firefox gaan probeer om ‘n nuwe Guinness wêreldrekord op te stel vir die meeste downloads in een dag – meer as ‘n miljoen. Meer as ‘n miljoen mense het reeds aangedui dat hulle gaan deelneem.
As jy nog wonder oor wat Firefox is, dit is ‘n webblaaier (browser) soos Internet Explorer. Net baie beter. In 2004 skryf Forbes.com dat Firefox die beste webblaaier is. In 2005 wys PC World dit as hulle produk van die jaar aan. Volgens CERT het Firefox minder sekuriteitsprobleme as Internet Explorer.
Jy kan Firefox in Afrikaans aflaai en die Afrikaanse speltoetser gebruik om spelfoute te korrigeer. Verder kan jy Firefox aanpas om by jou behoeftes te pas.
Firefox 3 bied ‘n verskeidenheid nuwe funksies, onder meer:
1. Een-kliek boekmerke
2. “Smart location bar” – wanneer jy begin om ‘n adres in te tik, raai Firefox waarna jy soek, gebaseer op plekke wat jy in die verlede besoek het. Dit help jou om adresse te vind wat jy nie meer so lekker onthou nie. Hoe meer jy dit gebruik, hoe beter raak dit. Dit sal byvoorbeeld werwe wat jy meer gereeld besoek prioritiseer en voorstel.
3. Dit is vinnig.
4. Per ongeluk jou webblaaier toegemaak? Firefox maak dit maklik om voort te gaan waar jy laas was.
5. Firefox het 5,000 add-ons. Laat Firefox by jou grille en giere aanpas.
6. Die Mac weergawe ondersteun nou Growl notifikasies.
Jy kan Firefox 3 Dinsdag hier aflaai.
En sommer vir die lekker, hier is ‘n musiekvideo van ‘n nuwe kunstenaar, Brendan James. Heerlike kaggelweer musiek.



