riviersonderend

Archive for April 28th, 2008

Hoekom blog ek?

with 13 comments

Ek lees vandag Wipneus! raak wat die vraag vra. Vir ‘n oomblik sit ek soos ‘n springhaas wat vir die spotlight staar. Hoekom blog jy? Om.dat.dit.daar.is? Nee, wag dit is hoekom ek Everest wil gaan klim. Maar eers as ek alles in my lewe gedoen het wat ek wou. Sodat dit nie ‘n krisis is as ek in die poging vriesbrand kry, nadat ek deur ‘n sneeustorting oorval word, vir 20 ure in ‘n donker gat aan al my kak dink, voordat ek versmoor en sterf. Sonder enige aanskoulike drama. Al wat die koerantberig sal sê: “Hy het gedog hy kon.”

Hoekom blog ek?

Want ek het idees. Party van hulle is nogal ‘n pot snot. Ander is bloody marvellous, if you don’t mind me saying. Die probleem is om te onderskei watter idee hoort in watter kraal. Soms kry jy kommentaar wat jou help om die skape van die bokke te skei. Soms nie.

Soms is blogging ook gewoon net pret. “Ek wil dit sê en ek gaan dit sê!” (Die jonger geslagte sal nou nie weet waarvan ek praat nie, maar toemaar, julle is vergewe. Nie dat ek dink die jonger geslagte hier rondhang nie.)

Ek dink ek skryf wel vir ‘n gehoor, soos aangedui. Ek vind sommige kommentators betekenisvol en verrykend. Maar ek dink ook dat hierdie blog nie in almal se smaak sal val nie. (Is daar so iets soos ‘n blog wat in almal se smaak val?) Daarmee het ek ook nie ‘n probleem nie. As jy kies om verby te hou, is dit jou goeie reg. ‘n Baie goeie vriendin het eendag in elk geval aan my erken – in ‘n Brutal Fruit oomblik van belydende eerlikheid – dat ek ‘n “acquired taste” is. Ek het gemeen Cabernet Sauvignon is ‘n “acquired taste”.

Wat ek wel nie wil doen nie, is om te versigtig te wees as ek blog. Dan hou ek liewers op. As ek ‘n idee het wat pla of inspireer of wat ook al, wil ek hom deel. Soms is ek stil, want dan is ek gatvol vir my eie stem.

Daar is ‘n song van Alanis Morrisette waarmee ek geweldig kan identifiseer. Dit is waar van my. Dit is waar van die mense wat ek liefhet en my liefhet.

I can be an asshole of the grandest kind
I can withhold like it’s going out of style
I can be the moodiest baby and you’ve never met anyone
Who is as negative as I am sometimes

I am the wisest woman you’ve ever met.
I am the kindest soul with whom you’ve connected.
I have the bravest heart that you’ve ever seen
And you’ve never met anyone
Who’s as positive as I am sometimes.

You see everything, you see every part
You see all my light and you love my dark
You dig everything of which I’m ashamed
There’s not anything to which you can’t relate
And you’re still here

I blame everyone else, not my own partaking
My passive-aggressiveness can be devastating
I’m terrified and mistrusting
And you’ve never met anyone as,
As closed down as I am sometimes.

You see everything, you see every part
You see all my light and you love my dark
You dig everything of which I’m ashamed
There’s not anything to which you can’t relate
And you’re still here

What I resist, persists, and speaks louder than I know
What I resist, you love, no matter how low or high I go

I’m the funniest woman that you’ve ever known
I’m the dullest woman that you’ve ever known
I’m the most gorgeous woman that you’ve ever known
And you’ve never met anyone
Who is as everything as I am sometimes

You see everything, you see every part
You see all my light and you love my dark
You dig everything of which I’m ashamed
There’s not anything to which you can’t relate
And you’re still here

Die blog gee nie voor om iets anders as dit te wees nie. Ek blog om my lig meer te waardeer en om my donker beter te verstaan.

Die vraag oor waarom ek blog het my wel aan ‘n ander, verwante vraag laat dink.

Hoekom lees jy hier?

Written by George Maru

28 April 2008 at 21:35

Posted in sommer net

Tagged with

Die slakspoortjie van ‘n volk?

with 14 comments

Aanvanklik het ek my nie veel gesteur aan die gebeure op Greytown nie. 60,000 (volgens Die Rapport) mans het byeengekom om hul sonde voor die Here te bely en is as die “Mighty Men” gesalf. Dit sal lei tot die begin van die einde van ons probleme in hierdie ongelukkige land.

Eers het ek dit effe amusant gevind. Namate ek met mense gepraat het wat dit positief beleef, voel ek anders. Dit is nie snaaks nie. Ons is besig om die begin van die einde van ‘n volk te aanskou.

Die Afrikaner is sterwend.

Ons is angstig op soek na antwoorde om die onafwendbare te vermy. Die Afrikaner was nog altyd gelowig en het hom tot ‘n hoër hand gewend in tye van droogte, dreigende onheil van volke en rasse wat sy geboortereg van hom wou afneem en aanslagte van die bose. Daarom is dit seker nie vreemd dat dit nou ook so sal wees nie.

Daar is vandag nie ‘n gebrek aan uitdagings en gevare in hierdie land nie: misdaad, ekonomiese onsekerheid oor regstellende aksie en werkloosheid, Afrikaleiers se onvermoë om die kontinent se probleme aan te spreek, morele verval, die wegvlug van openbare ruimtes na die veiligheid agter sekuriteitsmure en die gepaardgaande afgestompheid.

Die antwoorde wat voorgehou word, is eenvoudig: sê vir die Here jy is jammer oor die hoogmoed in jou hart, neem weer jou gesagsposisie in die huis in as man, kry die gays om hulle te bekeer van hul losbandigheid en sit die kerkbanke vol. En bid. Bid dat dinge moet beter raak. Glo net, en dit sal!

Soos ek verstaan, werk die redenasie as volg: God is kwaad oor al hierdie dinge en nou straf hy die Afrikaner. Maak net hierdie dinge reg en Hy sal sy kant bring.

Hierdie antwoorde is geweldig populêr, want dit is bietjie wyn vir die pyn, sonder dat dit die dieperliggende uitdagings oopkrap. Dit herinner aan die bekende, goeie goue era. Al is dit leeg, maak dit nie saak nie. Te midde van soveel onsekerheid, word daar gehunker na die bekende.

Dit maak die Afrikaner steeds besonders naïef en goedgelowig. Gebed het nie gehelp vir 6,000,000 Jode nie. Dit het niks verander aan die lot van 300,000 Darfoeri’s nie. 800,000 Rwandese het ten spyte van hulle gebede gesterf. Die lys is nimmereindigend.

Tog wil die Afrikaner glo dat hy spesiaal is. ‘n Vrome hart kan al die probleme wegneem. Ook daardie kwellende onrustigheid waaroor daar nie veel gepraat word nie, maar wel in die Afrikanergemoed leef.

Gaan daar nog Afrikaners oor 150 jaar wees?

Ironies genoeg hang die Afrikaner se toekoms vandag volkome af van Afrika se lot – dieselfde Afrika waarvan die Afrikaner hom wou losmaak. As Suid-Afrika en Afrika se vooruitsigte verbeter, is daar hoop vir die Afrikaner. Indien nie, sal die volgende geslagte Afrikaners toenemend emigreer. Hulle kinders en die se kinders sal assimileer en Canucks, Aussies en Kiwis word. Minder Afrikaners sal oorbly in Suid-Afrika; hulle ekonomiese invloed sal afneem. Noodwendig sal dit moeiliker en moeiliker word om Afrikaans in skole en universiteite as onderrigtaal te behou. Minder boeke sal verkoop en gelees word. Minder advertensies in Afrikaans. Minder TV-tyd. Minder radio-tyd. Minder Afrikaans. Minder Afrikaners.

Met die nuus van nog ‘n gesin wat emigreer raak die gebed nog dringender. God word ernstiger gesmeek om die Afrikaner die beker van sy naderende dood te spaar en die Afrikaner die ewige lewe te gee, soos Hy belowe het.

Ek vermoed dat daar in die Afrikaner-onderbewuste ‘n besef is van die weerlose posisie waarin die volk hom bevind; die uitdagings wat soos die Himalajas voor hom verrys; en die uiteindelike futiliteit om te hoop op ‘n De la Rey of ‘n hoër hand. Want dit is Afrika wat sy toekoms sal bepaal en Afrika se toekoms lyk nie juis op die oomblik rooskleurig nie.

Deon Opperman het reeds in Donkerland die toekoms gesien. So vervlietend as a slakspoortjie oor die rots van Donkerland, so is die Afrikaner se tyd in Afrika. Dieselfde Afrika wat sy enigste tuiste was.

Ons lééf met daardie besef, ten spyte van ons gebede.

Written by George Maru

28 April 2008 at 10:38

Posted in afrikaans, godsdiens, nuus

Tagged with , ,

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.