O my siel! Hou vas jou hart, ons gaan begrafnis hou! Terwyl ek so effe windverwaaid deur Youtube seil, kom ek toevallig op ‘n video knipsel af. Julle sal nie raai van wat nie!
Dit is 1989. Riaan Cruywagen lees die Afrikaanse nuus (hoe is dit moontlik dat hy in 2008 steeds lyk soos hy in 1989 gelyk het?!). Die video begin met ‘n laaste beeld van Freddie Mercury. Maar dit is nie belangrik nie, want volgende hou ons begrafnis. Op Koffiefontein. Etienne Leroux se begrafnis. Leroux was een van Afrikaans se grootste skrywers en is veral deur die Afrikaner vergruis. Hy is bekend vir werke soos Sewe Dae by die Silbersteins, Magersfontein, o Magersfontein en Een vir Azazel.
Ek plaas ‘n artikel van hom wat in Insig (nog ‘n begrafnisgeval), Maart 2006, verskyn het. Hy was ‘n fenomeen. Formidabel. En Afrikaans.
My Dans met God
Deur Etienne Leroux
Ek was ‘n baba in die arms van ‘n bruin vrou en daar was ‘n begrafnis met baie blomme en mense in swart pakke en die reuk van kamfer en die geur van kruisement. As baba druk en my hand teen die radiator van ‘n ou Ford en brand my brose velletjie af. (Ek het dit jare later daarna bevestig in ‘n gesprek met my vader. Ek onthou dit, het hy vir my gesê. Maar hoe kan jy dit onthou? Jy was toe drie.)
Die natuur, God, huisgodsdiens, spoke, poltergeists, en die kerkklokke wat lui in die lokasies van dié Middeleeuse agtergrond. Op my pa se escritoire was ‘n brons uil. Ek het kinkhoes gehad en kinkhoes gehoes op pad na my ouma se huis, verby die watersloot met krappe, en die heinings met die grenadellablomme. My ouma het my stroop gegee en koekies uit haar sombere spens. My oupa het my met sy kierie geraps toe ek die verbode vrug, lukwarte, in sy netjiese tuin gesteel het.
Een aand het ek in die volstruisveerhuis, ál die vensters en deure met hortjies gesluit, ‘n wit lig gewaar. Dit was ‘n soort maanlig wat die hele kamer verlig het. Dis ‘n spook, het die diensmeisie gesê wat in ons kamer geslaap het. Trek die lakens oor jou gesig, en dan sal jy dit nie sien nie.
‘n Rukkie daarna kry ek masels. My koors was 104. Daar was geen verband tussen my visie en die koors nie, want ek het die wit lig nie weer gesien nie en die vloek van masels was dat ek nie kon lees nie.
Die geïllustreerde Kinderbybel was my riglyn: ek kon vir ure die stories lees en interpreteer. Daarná het ek die Pilgrim’s Progress bekom en dit het my soeke dinamies geprikkel. Toe gee my pa my sowel die Griekse sages om te lees as die Arturiaanse legendes. Asook die sprokies van Grimm en Andersen. Asook Dickens en Die sewe duiwels.
Intussen was daar ook ‘n meisie wat vallende siekte gehad het en my gedurig agtervolg het. In haar verlange tot kommunikasie het sy op die onverwagste oomblikke verskyn: in die dag op die hoek van die straat; één aand in my kamer verlig deur kerslig. Kom ons hol, sê Sarah terwyl ons in stywe omhelsing in die hangkas wegkruip. (Sarah was toe nog nie op die wetboek geplaas as voorbeeld van ontug nie.)
Yahweh en Christus het oor al twee my skouers geloer in hierdie vreemde wêreld.
Ek sit as kind in die kerk van my oupa.
Ons eet pepermente terwyl my oom improviseer met die lied in sy stem: as die gemeente styg dan daal hy; daal hulle, dan hef hy sy falsetto tot borduursel. Die dominee wys op ons sondes. Hy begin met abstraksies en dan rig hy hom tot besonderhede. Maar alles is veilig. Niks raak jou as kind nie. Die Sekhinah sweef deur die kerk. Op sy eie manier is dit die ritueel van ‘n uitverkore volk. Dit was ons geloof.
sonkind said
George, ek het ‘n ernstige vermoede dat Riaan Cruywagen nie “homo sapiens” is nie. Heel moontlik ‘n “alien”, want GEEN mens kan soveel jare net so dieselfde bly lyk nie. Anders moet hy sy gene bemark, dink net hoeveel vrouens sal groot geld daarvoor betaal
Begrafnisse – ek doen dit nie. Ek is ‘n swartskaap in my familie oor ek weier om begrafnisse by te woon. Hyulle wil my maak erken mens moet jou laaste eer betoon aan die dooie. Watse laaste eer? Die persoon is dood. As daar nie ‘n lewe na die dood is nie, weet die persoon dit in elke geval nie en as daar wel ‘n lewe na die dood is, is daar niks behalwe ‘n leë dop in daai kis nie. Betoon jou eer aan die lewende, nie aan die dooie nie.
Wag, ek praat te veel.
amanda said
wow – dis nou memories hierdie. Ek het dadelik die hoofstuk oor hom in Koos Human se boek “‘n lewe met boeke” weer gaan lees, veral oor al die drama met die Hertzog-prys.
Sonkind, ek moet belei dat ek vrek oor ‘n begrafnis en oor ‘n kerkhof. Daar is niks meer bevredigend soos ‘n groep mense wat “nader my God” so slepend sing soos op die video. En as kind kon ek ure in ‘n begraafplaas ronddwaal – hoe ouer hoe beter, en hoe meer “elaborate” die grafsteen hoe meer was ek geinteresseerd
Nico said
/me hou nie van enigiets wat met die dood te doen het nie en vermy ook begrafnisse so ver ek kan.
Ek wonder ook dikwels hoekom mens na ‘n begrafnis toe gaan – want jy doen dit nie vir die ou met die Pine Pajamas nie. Baie sê jy doen dit vir die wat nagelaat word, maar op so dag is daar soveel dinge, soveel gevoelens, wat mens oorweldig, ek wil nie nog mense groet nie – veral die wat ek dink by die begrafnis is om gesien te word.
Ek was in my lewe op een nice begrafnis – die van my oom C. Ek dink ek moet ‘n post skryf oor oom C – hy was ‘n merkwaardige mens. Ek dink nie daar het iemand uit die diens geloop met ‘n droë oog nie. Die “tee en toebroodjies” is by die Dros genuttig – oom C sou dit nie anders wou hê nie – en ek dink nie daar is iemand daar weg voor hulle nie ten minste ‘n bietjie gewyn was nie – ek dink ook nie oom C sou dit anders wou gehad het nie.
‘n Merkwaardige mens « Uit die Siel van ‘n Boer said
[...] maar bloubloed het my voorgespring op daardie een. Ek het gou vanoggend ‘n draai gaan maak by riviersonderend, en ‘n stukkie gelees oor die begrafnis van Etienne Leroux. Die kommentaar op die inskrywing [...]
Pikkelik said
Ek hou ook niks van begrafnisse nie. Ag nee wat, ek kan net nie die trane inhou as ander mense om my huil nie, dan ken ek nie eers die ou wat begrawe word nie…. O ja ek wonder wat is Riaan Cruywagen se facelift rekening per jaar…
mieliepap said
Ek is redelik seker Riaan Cruywagen dra ‘n pruik, vir solank ek (en my pa) kan onthou.
George Maru said
Sonkind, Nico, Pikkelik ek het vir julle slegte nuus. Vir die volgende rukkie gaan daar op riviersonderend geklets word oor die dood en begrafnisse. Ek is besig om ‘n inskrywing gereed te maak oor die dood, begrafnisse en trampoliens. Toevallig het ek ‘n ander Youtube raakgeloop wat ook oor die dood gaan. So al wat ek kan sê is: “Brace yourselves!”
Sonkind, ek stem dat ons ons eer aan die lewendes moet betoon, maar dit is een van daai dinge wat maklik sê maar soms moeilik is om te doen.
Amanda, ek sal bietjie vir jou cool foto’s van ‘n begraafplaas hier in Kaapstad plaas.
Nico, gewyn en ‘n begrafnis klink vir my na ‘n gevaarlike kombinasie.
Pikkelik, ek dink nie Riaan kan alleen so lyk van facelifts nie. Ek dink Sonkind is reg. Die man is ‘n alien.
Mieliepap, as ek reg onthou het ‘n klomp studente ‘n paar jaar gelede die pruik-gerugte bevestig.
Nico said
Tuks Jool, 1996. Maroela manskoshuis, as ek dit nie mis het nie. ROFLMAO.
rosalindfranklin said
Nice, wat ‘n nice videogreep.
Ek kan nie wag om te praat oor die dood nie, laat waai!
Magersfontein, o Magersfontein was op ‘n stadium hier verbied. Voorwaar ek weet nie waarom nie, want ek soek nou nog na perverse seks in die briljante-briljante boek.
En begrafnisse laat ons vreemd optree. En wat sê hulle…where there is a will there is a relative.
(ek het nou eers jou vraag oor meditasie gesien en pas geantwoord, jammer vir die gewag).
George Maru said
Nico, dit is daai einste gebeurtenis!
Rosalind is die seks nie in “Sewe dae” nie? Die laaste aand is daar mos ‘n orgie, maar dinge word meer gesuggereer as eksplisiet gestel. Ek dink in elk geval daar is ander goed in die boek wat mense meer ontstel het.
Dankie, ek het die antwoord gesien.
rosalindfranklin said
Ja kan wees, jy is reg. Ek moet weer vir ‘n slag al sy goed lees.
Maar wat ookal het mense so ontstel het, het my nie ontstel nie. Ek het seker ‘n dik dom vel.
Dood en Begrafnisse « Sonkind said
[...] en Begrafnisse Posted on April 5, 2008 by sonkind Voorverlede week het George oor begrafnis en dood geskryf en ek wou toe al ‘n inskrywing hieroor gemaak het, maar my dae het [...]
rosalindfranklin said
Jy het my skoon aangespoor, ek lees nou weer die Silbersteins-trilogie….heerlik.