Archive for Maart 2nd, 2008
*Sug*
Onlangs ontdek ek jy kan vollengte flieks op die internets kyk (ja, ek weet sommige van ons is stadig). So kyk ek toe vandag “The Bubble“, ‘n fliek van Israel met Hebreeuse dialoog en Engelse onderskrifte.
Ek het sommer geweet die fliek gaan my na die Minora blades laat gryp, want die tema is van so ‘n aard dat jy wéét hierdie fliek kan nie goed eindig nie. ‘n Joodse man wat diens doen by ‘n grenspos, ontmoet ‘n Palestyn. Hulle raak verlief en gaan bly in Tel Aviv. Die Palestyn gaan op ‘n stadium terug na Nablus vir sy suster se troue. Sy trou met ‘n bevelvoerder van Hamas.
Ek wil nou soos Sophia van Golden Girls-faam sê: “Now picture this…“
Jy sal nie verkwalik word as jy sukkel nie. Soos reeds gesê, daar is g’n manier hoe so ‘n storie met “and they lived happy ever after” kan eindig nie.
Hoekom? Hoekom? Hoekom?
Eintlik weet ek hoekom. Eintlik wil ek eerder weet of dit wragtig so moeilik is om ander mense ook ‘n plek in die son te gun? Mense wat nie soos jy is nie? Mense wat nie soos jy dink nie?
Om soms net lank genoeg stil te bly om na die ander kant te luister?
Ek dink oor die gebeure van die afgelope week in Suid-Afrika. Afrikaner rassisme haal die voorblaaie. Nee, ons in nie almal so nie! Ja, maar swartes is ook rassiste. Die misdaad. Die misdaad. Afrikaners word gemarginaliseer in hulle eie land.
Ek meen dit vorm die kern van soveel konflik in die wêreld vandag. Ons wonde van die verlede. Jy sien dit in die konflik tussen Israel en Palestina. Jy sien dit in Afrika. Jy sien dit in Suid-Afrika. Enige gesprek, maak nie saak hoe relevant dit tot die tema is nie, moet noodwendig die onreg wat mý aangedoen word, aanspreek.
Te midde van al die stemme wat erkenning vra vir hulle pyn, hulle onsekerhede, hulle woede, en hulle vrese, hou mense op luister. Ek kan nie sien hoe dit moontlik is om oplossings vir probleme te kry as mense nie eers kan luister nie.
Wat ek wel weet, is dat hierdie wonde van die verlede wat mense (waarby ek myself insluit) so met hulle saamsleep, soos ‘n kanker is. Dit teer op individue. Dit teer op gesinne. Dit teer op volke. Soos nou weer geïllustreer. Hoe gebeur dit dat jy op die punt kom waar jy ‘n kick daaruit kry om ‘n ander mens te verneder? En soveel energie daarop spandeer? In hoe ‘n mate moes jy nie eers jou eie siel geweld aangedoen het om by daardie punt uit te kom nie?
Kan ons nie maar net soms ons eie bagasie afgooi en net luister na die ander party nie, sonder dat “ek” die spilpunt van die gesprek raak?