riviersonderend

Archive for Maart 2008

Begrafnis op Koffiefontein

with 13 comments

O my siel! Hou vas jou hart, ons gaan begrafnis hou! Terwyl ek so effe windverwaaid deur Youtube seil, kom ek toevallig op ‘n video knipsel af. Julle sal nie raai van wat nie!

Dit is 1989. Riaan Cruywagen lees die Afrikaanse nuus (hoe is dit moontlik dat hy in 2008 steeds lyk soos hy in 1989 gelyk het?!). Die video begin met ‘n laaste beeld van Freddie Mercury. Maar dit is nie belangrik nie, want volgende hou ons begrafnis. Op Koffiefontein. Etienne Leroux se begrafnis. Leroux was een van Afrikaans se grootste skrywers en is veral deur die Afrikaner vergruis. Hy is bekend vir werke soos Sewe Dae by die Silbersteins, Magersfontein, o Magersfontein en Een vir Azazel.

Ek plaas ‘n artikel van hom wat in Insig (nog ‘n begrafnisgeval), Maart 2006, verskyn het. Hy was ‘n fenomeen. Formidabel. En Afrikaans.

My Dans met God

Deur Etienne Leroux

Ek was ‘n baba in die arms van ‘n bruin vrou en daar was ‘n begrafnis met baie blomme en mense in swart pakke en die reuk van kamfer en die geur van kruisement. As baba druk en my hand teen die radiator van ‘n ou Ford en brand my brose velletjie af. (Ek het dit jare later daarna bevestig in ‘n gesprek met my vader. Ek onthou dit, het hy vir my gesê. Maar hoe kan jy dit onthou? Jy was toe drie.)

Die natuur, God, huisgodsdiens, spoke, poltergeists, en die kerkklokke wat lui in die lokasies van dié Middeleeuse agtergrond. Op my pa se escritoire was ‘n brons uil. Ek het kinkhoes gehad en kinkhoes gehoes op pad na my ouma se huis, verby die watersloot met krappe, en die heinings met die grenadellablomme. My ouma het my stroop gegee en koekies uit haar sombere spens. My oupa het my met sy kierie geraps toe ek die verbode vrug, lukwarte, in sy netjiese tuin gesteel het.

Een aand het ek in die volstruisveerhuis, ál die vensters en deure met hortjies gesluit, ‘n wit lig gewaar. Dit was ‘n soort maanlig wat die hele kamer verlig het. Dis ‘n spook, het die diensmeisie gesê wat in ons kamer geslaap het. Trek die lakens oor jou gesig, en dan sal jy dit nie sien nie.

‘n Rukkie daarna kry ek masels. My koors was 104. Daar was geen verband tussen my visie en die koors nie, want ek het die wit lig nie weer gesien nie en die vloek van masels was dat ek nie kon lees nie.

Die geïllustreerde Kinderbybel was my riglyn: ek kon vir ure die stories lees en interpreteer. Daarná het ek die Pilgrim’s Progress bekom en dit het my soeke dinamies geprikkel. Toe gee my pa my sowel die Griekse sages om te lees as die Arturiaanse legendes. Asook die sprokies van Grimm en Andersen. Asook Dickens en Die sewe duiwels.

Intussen was daar ook ‘n meisie wat vallende siekte gehad het en my gedurig agtervolg het. In haar verlange tot kommunikasie het sy op die onverwagste oomblikke verskyn: in die dag op die hoek van die straat; één aand in my kamer verlig deur kerslig. Kom ons hol, sê Sarah terwyl ons in stywe omhelsing in die hangkas wegkruip. (Sarah was toe nog nie op die wetboek geplaas as voorbeeld van ontug nie.)

Yahweh en Christus het oor al twee my skouers geloer in hierdie vreemde wêreld.

Ek sit as kind in die kerk van my oupa.

Ons eet pepermente terwyl my oom improviseer met die lied in sy stem: as die gemeente styg dan daal hy; daal hulle, dan hef hy sy falsetto tot borduursel. Die dominee wys op ons sondes. Hy begin met abstraksies en dan rig hy hom tot besonderhede. Maar alles is veilig. Niks raak jou as kind nie. Die Sekhinah sweef deur die kerk. Op sy eie manier is dit die ritueel van ‘n uitverkore volk. Dit was ons geloof.

Written by George Maru

29 Maart 2008 at 18:18

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.