riviersonderend

Archive for February 3rd, 2008

Die donker kontinent: hoekom moet ek bly?

with 14 comments

Met onafhanklikwording in 1957 was Ghana se BNP per capita gelyk aan die van Suid-Korea. In 2007 was Ghana se BNP per capita $ 1,400 en Suid-Korea s’n $ 24,600. Soos Ghana, het Suid-Korea ook ‘n koloniale verlede – in 1910 het Japan dit geannekseer. Afrika is nie uniek omdat dit deur koloniale magte uitgebuit is nie. Afrika is wel uniek in die opsig dat dit nog steeds die ou koloniale magte blameer vir die kontinent se probleme saam met globalisering, internasionale maatskappye ens.

Die probleme in Afrika lê altyd op ‘n ander plek. Dit is een van my grootste probleme met die kontinent – daar word nie verantwoordelikheid geneem nie; daar is nie sprake van toerekensvatbaarheid nie; korrupsie word verdra en selfs aangemoedig; despote word ondersteun, terwyl ontwikkelde lande gedemoniseer word. Altyd, altyd lê die probleem elders.

As jy beweer Afrika se probleme word veroorsaak deur ‘n gebrek aan goeie leierskap, word jy as ‘n rassis uitgekryt (of net enigsins ‘n ander opinie het). Laat dit dan so wees. Dit verander nie die feit dat Afrika ‘n geweldige gebrek aan goeie leiers het nie (hierby sluit ek natuurlik die ou NP-leiers in – hulle was ook niks anders as tipiese Afrika despote nie).

Die afgelope paar jaar is verskeie lande en leiers as modelle van goeie regering voorgehou. Museveni van Uganda, Zenawi van Ethiopië, Afworki van Eritrea is ‘n paar voorbeelde. Intussen het Museveni in ‘n despoot ontaard, Zenawi en Afworki het mekaar getakel in ‘n oorlog oor ‘n stuk woestyn.

Van Afrika se stabiele “suksesverhale” soos Côte d’Ivoire en Kenia is daar nie veel oor nie. Die lande staar vandag oor die afgrond van etniese vyandigheid en onstabiliteit. Darfoer se konflik spoel oor na Tjaad. Die Sentraal Afrikaanse Republiek het misluk. So ook Somalië. Die Demokratiese Republiek van die Kongo is ‘n gemors. Wes-Afrika probeer die spook van Charles Taylor ontsnap.

Suid-Afrika word dikwels as Afrika se hoop voorgehou. Onder die ANC regering het Suid-Afrika ongekende ekonomiese groei beleef. Niemand sal hierdie prestasie van die Mandela/Mbeki regerings kan wegneem nie.

Tog staan Suid-Afrika vandag voor ‘n kruispad en begin dit al hoe meer die kwale van ander Afrikalande openbaar. ‘n Oplossing vir die misdaadprobleem is nie in sig nie. Inteendeel, daar is ‘n absolute onwilligheid om dit aan te spreek. Eerder word misdaadbestrydings-agentskappe soos die Skerpioene ontbind. Daar is geen aanduiding dat korrupsie onder ‘n Zuma-regering aangespreek sal word nie. Inteendeel.

Ek wonder of daar ‘n vooruitstrewende land in die wêreld is waar die regering sou kon erken dat dit verantwoordelik is vir ‘n energiekrisis soos wat ons tans beleef, en nie gedwing sou word om te bedank nie? Hier maak dit nie saak. Verantwoordelikheid is nie belangrik nie, want daar is nie gevolge vir jou dade nie.

Diegene wat meen Afrika staan op die vooraand van ‘n renaissance en dat Suid-Afrika ‘n leidende rol daarin gaan speel, wil dit seker graag glo. Miskien laat dit mense goed voel, soos om allerlei ander dinge te glo. Miskien is dit deel van Afrika se probleem. Daar is ‘n algemene warmbroeiery oor konsepte soos ubuntu en hoe wonderlik Afrika en sy mense is. Tog is dit ‘n kontinent waar nie veel waarde geheg word aan menselewens nie. Daaroor word geswyg. Niemand wil oor die olifant in die kamer praat nie.

Ongelukkig verander die gekloek niks aan die feite nie. Afrika word geteister deur swak regerings. Punt. Beleggers stel nie belang om in lande te belê met swak regerings nie (tensy dit olie, diamante of goud is…)

Daar is ‘n oorvloed lande wat meeding vir beleggings om hulle ekonomieë te laat groei. Beleggers skuld Afrika niks nie. As Afrika nie verantwoordelikheid vir haar eie probleme wil neem nie, moet sy nie verwag dat iemand anders gaan nie. Blameer maar links en regs, soveel as wat jy wil.

Solank Afrika verknog is aan haar slagoffermentaliteit, nie erns maak met misdaad en korrpusie nie, swak regerings duld, kan sy vergeet van vooruitgang.

Op die oomblik sien ek bitter min tekens dat Afrika erns wil maak met bogenoemde, wat my laat wonder: hoekom moet ek bly en saam wegsak in die moeras?

Written by George Maru

3 February 2008 at 19:59

Posted in afrika

Tagged with ,

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.