Archive for November 2007
Deon Maas: Laaste woorde
Wat bly oor om te sê na al die woede, die geweld, die skok, afgryse? Die mens bly maar een van die kwesbaarste wesens wat nog hierdie aarde bewandel het. Hy is in staat tot soveel. Hy ontwikkel geneesmiddels teen epidemies, verken die buitenste ruim, bied rusplek aan die reisiger en skuiling aan die weduwee. Maar ook verkrag en moor hy, buit mense uit vir eie gewin, en kyk TV as mense in hulle duisende in vreemde lande geslag word.
Keer op keer het die geskiedenis bewys hoe maklik dit vir die mens is om te gly van sy edelste drome en wense na sy skadukant. Pol Pot het ongehinderd menigtes van sy eie mense vermoor. Duitsers het toegekyk hoe Jode, Roma en gays na konsentrasiekampe gestuur is.
Ek herinner myself aan ‘n gesprek van Umberto Eco, waarin hy ‘n opmerking gemaak het oor geloof en ons kwesbaarheid. Selfs al glo ‘n mens nie in die Christengod nie, kan ‘n mens nie anders as om die storie van Christus te bewonder nie en die mens se behoefte aan so ‘n storie. Al glo jy nie in die god se bestaan nie, gryp die verhaal mens aan oor die pre-moderne mens se vermoë om ‘n model van universele liefde en onvoorwaardelike vergifnis so roerend gestalte te kan gee. Dit spreek tot die beste waartoe die mens moreel in staat kan wees; die beste waarvoor hy kan hoop om te word.
‘n Hele geloof is gebou rondom die man Jesus, ‘n geloof wat daarop roem om hierdie boodskap van universele liefde en onvoorwaardelike vergifnis te bely, verkondig, en te leef.
Maar soos Eco tereg opmerk, wys die geskiedenis ons dat die mens nooit kon kersvashou by sy edelste drome nie. Die geskiedenis is die een hartseerverhaal na die ander waar hierdie kwesbare wese keer op keer gefaal het om aan sy mooiste verwagtinge hande en voete te gee.
Vandag is nie anders nie.
Vandag se Rapport noem dr. Kobus Gerber, sekretaris van die NG Kerk, dat die besprekingspunt nie meer Maas is nie, maar hoe Christene opgetree het: “Is dit die Christendom van die evangelie? Hoe verstaan ons mense hoe die grondwet werk?”
Die Rapport vertel van dreigemente, selfs teen persoonlike eiendom. Lees die Afrikaanse blogosfeer. Woorde waarmee Deon Maas beskryf word: werfetter, moerse doos, poes. So kan ‘n mens aangaan. O ja, en dan word die Bybel ook nog bygesleep, asook Maas se boyfriend (?!). Jy steier terug soos jy lees hoe mense woedend hulle haat op rekenaarskerms braak.
SMS-boodskappe en eposse het die land deurkruis. Mense skryf boodskappe dat Rapport vandag geboikot moet, omdat Maas ‘n rubiek gáán skryf wat Satanisme ondersteun. Gáán skryf. Hulle weet nie eers waarvan hier gepraat word nie, maar het ‘n klok iewers hoor lui en gaan terstond aan die marsjeer, soldaatjies vir Jesus.
Hennie Stander is in sy noppies en dominees juig saam. Christene staan op! Christene staan saam! Veg vir die saak.
Lees weer hierbo.
Dit is hoe Christene hulself definieer.
Dit is hoe Christene hulself definieer.
Dit is hoe Christene hulself definieer.
In hierdie optrede.
En waaroor gaan die bohaai? Blykbaar wil Deon Maas Satanisme onder kinders propageer, of so iets. Ek weet nie regtig nie. Ek vermoed Rapport het ‘n ander artikel op die web geplaas, want ek lees dit nie raak nie. Niemand vra om beskaafd gesprek te voer, niemand wil uitvind of hulle Deon Maas reg verstaan het nie. Net haat en vrees word gespoeg waar jy kyk.
Dit is wat blinde geloof aan jou doen. Blinde geloof is ‘n glo-soos-’n-kind-geloof. Blinde geloof is ‘n ek-weet-nie-ek-glo-maar-net-geloof. Blinde geloof word gedryf deur vrees, veral vir die bose. Dit het die afgelope week duidelik geword.
Wat het geword van die boodskap van die transformerende krag van die liefde? Dit is Paulus wat geskryf het: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” ‘n Mens hoef nie saam met Paulus te glo nie, om te weet dat hy hier waar woorde praat oor liefde nie. Geen vrees, geen haat kan in die teenwoordigheid van liefde se transformerende krag staan nie. Liefde trek aan. Dit oorweldig met eenvoud, in stilte, in ‘n kyk.
Dit dryf vrees uit.
‘n Mens kan maar net spekuleer waar die Christendom vandag sou gewees het, as sy meer kon fokus op haar sentrale boodskap.
‘n Mens kan maar net spekuleer. Weer het hierdie sentrale boodskap wat eeue gelede reeds gebore is uit versugtinge na iets groters, iets bewonderenswaardig, iets nastrewenswaardig, verlore gegaan, en bly dit ‘n onbereikbare belofte waarna getas word.
Deon Maas het dalk sy verdiende loon gekry, maar vandag het die Christendom verloor.
My hart huil vir die Christendom.
Perspektief
Ek het besluit om nie kommentaar te lewer op die hele Deon Maas-debakel nie. (As jou hart warm klop oor wat die goeie Christen Afrikaners vermag het, kan ek belowe dat my opinie jou ook sal offend – maar dit daar gelaat.)
Weer het ek besef hoe verwyderd ek van my gemiddelde volksgenoot geraak het. Ons het werklik nie meer veel in gemeen nie, behalwe dat ons ‘n moedertaal deel. Ons lees nie dieselfde koerante nie. Ek wend nog so af en toe ‘n desperate poging aan om Die Burger te lees, maar ek vermoed die Afrikaanse pers het nog so 10 jaar nodig, voordat jy dit met jou brein aangeskakel daar naby kan waag. My en Rapport se paaie het jare gelede reeds geskei toe hulle Barend Strydom, die wit wolf wat ‘n klomp swart mense op Strydomplein doodgeskiet het, se storie op die voorblad uitgebasuin het. Om nie van die ander onsmaaklikhede wat met die hele besigheid gepaard gegaan het, te praat nie.
So, ek is toe so aan die dink hoe ek alweer uit die Afrikanerdóm gaan bedank, toe ek besef dit kon veel erger gewees het. Ek kon vandag in Bagdad se strate geloop het, met die rympie wat ek aan elke tweede persoon moes opsê:
“Oh, yes, yes. I am so sorry we destroyed your country, but you know it is like this. We have a retard for president. I know, yes, we did vote for him. Twice. I am so sorry. Please just don’t think we are stupid.”
Die Afrikaner se manewales mag dalk ‘n intellektuele verleentheid wees, maar ten minste is dit relatief skadeloos.
So hier sit ek steeds, met ‘n lidmaatskapkaartjie wat ek maar net nie opgeskeur kry nie.
Maar genoeg van sulke onsinnige praatjies. Ek het ‘n SMS-veldtog om te begin. Die Grand Prix-motors se lawaai pla my geweldig.
Sondagsport is uit die bose. Kom SMS saam met my vir Die Saak.
Boikot Supersport!
Bly of gly?
Dit is weer sulke tyd. So af en toe dink ek aan die e-woord. Dan is ek weer van voor af begeesterd om verder te gaan waar ek laas opgehou het en die emigrasieproses aan die rol te sit. Dit is nou as ek op ‘n land kan besluit om heen uit te wyk.
Weens my persoonlike omstandighede sal Kanada die maklikste opsie wees, m.a.w. die minste papierwerk. Vancouver is mooi, naby die berge en die see. En so 3 ure van Vancouver af is daar ‘n wynstreek by Kelowna. Maar Kanada is koud, baie ver en ek ken niemand daar nie.
Nieu-Seeland is ook ‘n opsie, waarskynlik een van my gunstelinge, ook omdat dit so mooi is, daar berge is en die see nooit te ver nie. Daar is ook baie water. En Wellington is ‘n pragtige stad. Die Nieu-Seelanders wat ek al ontmoet het, is baie aangenaam. Definitief ‘n opsie.
Dan is daar Australië. Ek het my bedenkinge oor ‘n land wat vir John Howard gestem het. En nie net eenkeer nie. Tog is daar baie goeie redes om Australië te kies.
Ek kan seker ‘n klomp redes aanvoer hoekom ek wil uitwyk. Ag, al die gewone redes soos misdaad, dat ek op ‘n skoeter deur die strate wil jaag, sonder die vrees dat ‘n taxi my in die veertiende dimensie sal instamp. Dan is daar ook die vrae, soos of dit nie selfsugtig is nie, hardloop mens nie weg van jou rol hier nie?
As ek egter doodeerlik met myself moet wees, kan ek my redes in een woord saamvat: wanderlust.
Dalk is daar tog ‘n bietjie Afrikaner in my.
Song to the siren
On the floating, shapeless oceans
I did all my best to smile
til your singing eyes and fingers
drew me loving into your eyes.
And you sang “Sail to me, sail to me;
Let me enfold you.”
Here I am, here I am waiting to hold you.
Did I dream you dreamed about me?
Were you here when I was full sail?
Now my foolish boat is leaning, broken love lost on your rocks.
For you sang, “Touch me not, touch me not, come back tomorrow.”
Oh my heart, oh my heart shies from the sorrow.
I’m as puzzled as a newborn child.
I’m as riddled as the tide.
Should I stand amid the breakers?
Or should I lie with death my bride?
Hear me sing: “Swim to me, swim to me, let me enfold you.”
“Here I am. Here I am, waiting to hold you.”
Die kat kom weer & As jy my liefhet
Daar het ‘n kat in ‘n klooster gebly wat een aand ‘n vreeslike bohaai gemaak het. Die monnike kon nie mediteer met al die lawaai nie. Die hoof van die klooster het beveel dat die kat vasgemaak moes word.
So gesê, so gemaak.
‘n Klompie jare het verbygegaan en die hoof is dood, en die kat is steeds elke aand vasgebind tydens meditasie. Toe die kat ook dood is, het die monnike ‘n ander kat gekry om in die aande vas te bind as hulle mediteer.
Jare het verbygegaan en eeue geword. Nuwe geslagte monnike het elke aand steeds tydens meditasie ‘n kat vasgebind. Ingewikkelde, geleerde boeke is geskryf oor die diepere betekenis en noodsaaklikheid daarvan om ‘n kat vas te maak tydens meditasie.
***
Twintig monnike en een non, genaamd Eshun, het meer van meditasie geleer by ‘n vername leermeester. Alhoewel Eshun se kop kaal geskeer was, en sy eenvoudig aangetrek het, was sy pragtig. Van die monnike het op haar verlief geraak.
Een monnik het vir haar ‘n liefdesbrief geskryf en gevra dat hulle mekaar in die geheim moet ontmoet. Eshun het die anonieme brief geïgnoreer.
Die volgende dag, nadat die leermeester klaar gepraat het, het sy opgestaan en aan haar onbekende bewonderaar gesê: “As jy my werklik so lief het, staan op en kom omhels my.”