riviersonderend

Archive for November 26th, 2007

Gedagtes van oraloor

with 4 comments

Stel jou die Queen voor wat weer iets in die koerante lees van haar kleinkinders wat dronk uit ‘n klub strompel, of Fergie wat aan iemand se tone suig. Sy sal dit lees, lippe styftrek en aankondig: “I am not amused.” Sonder ‘n uitroepteken.

Dit is hoe ek nou oor hierdie jaar voel. Not amused.

Die ding karring voort, terwyl ek beter dinge het om te doen. Alles voeter net voort. Mense doen steeds stuff. Hulle vra vrae. Johan wonder wat mens met ‘n paperclip doen? Gaan Zuma vroue met kort rokkies deluxe storte in Tuynhuis laat installeer wanneer hy president word? Ekself wonder hoekom die honde blikkiesvleis oor hulle pille verkies en nie die wat uit die pouches kom nie? Pouches is oneindig makliker.

Mense doen ook ander goed, soos om onrealistiese eise te stel. Hulle verwag van jou om die southern right se paringsgewoontes te illustreer. Jy vind uit dat jy kan.

Ensovoorts. Ensovoorts.

Maar wat maak dit saak aan die einde van November?

Ek dink aan alles wat nog die jaar moet gebeur. Ek moet my skripsie klaarmaak, al weet ek nie meer of ek in die onderwerp glo nie. Wel, shit happens. Ek moet my motorlisensie wat 3 maande terug verval het, hernieu. Ek moet my bestuurslisensie wat hierdie week verval, hernieu. En ‘n tydelike lisensie kry. En dan ‘n internasionale bestuurslisensie gaan soek. En dan leer om aan die regterkant van die pad te bestuur. En ek moet ‘n jas en ander diverse wintersklere gaan soek. In Desember. In Kaapstad. (Good grief, wat ‘n mens nie vir die Afrikaanse diaspora sal doen nie!) Ek moet wéér aan die polisie verduidelik dat ek ‘n saaknommer nodig het vir my gesteelde asblik.

Maar dit is nie al nie! Nee, intussen oorweeg ek maar om enige pretensies van respektabelheid vir die blog ook oorboord te gooi. Ek wil skryf: “Wag, ek wil iets betekenisvol sê. Iets diep. Waardig.” Ek sal dink aan my lesers wat geteister word met my oppervlakkige mumbo jumbo. Ek sal regmaak. In my kop sal ek dan “Don’t give up” speel vir jou, liewe leser, terwyl ek my verbeel dat jy Kate Bush is. En ek Peter Gabriel.

Ek het reeds temas opgelyn om diep te raak. Hoekom die doodstraf verkeerd is, selfs al is die doel daarvan vergelding. Hoekom ek dink die tyd het aangebreek dat die regering dwelms, soos heroïen en kokaïen aan verslaafdes moet verskaf. Dan moet RMB se vraag seker ook beantwoord word.

Ek wil nog iets sê oor Tenzin Palmo se praatjie verlede week in die Baxter oor “Discovering your sanity“. Maar wat is daar om te sê? Dat ek op ‘n stadium so geraak is, dat dit soos ‘n tuiskoms gevoel het? Dat ek tydens vraetyd weer verlore geraak het?

Dalk moet ek julle eerder begin verveel met die kognitiewe dissonansie wat ek deesdae ervaar as omnivoor?

Nee. Nee. Al hierdie dinge is ‘n gejaag na wind. Nie feestyd se praatjies nie. Wat ek nou nodig het, is om ‘n oomblik rustig terug te sit en te filosofeer oor die lewe se groot vrae. Soos:

Hoeveel grappa is genoeg?

Written by George Maru

26 November 2007 at 21:08

Posted in sommer net

Tagged with

Het jy geweet?

with 5 comments

Goed wat jy gedink het jy weet maar waarskynlik verkeerd is:

* Die land met die meeste tiere is Amerika (hulle bly in dieretuine en word as troeteldiere aangehou).

* Daar was nie ‘n vloek op Toetankamen se graftombe nie (haai nooit!)

* Columbus het gedink die wêreld is peervormig.

* Haggis kom van Griekeland, kilte van Ierland, hoender tikka masala van Glasgow.

* Sjampanje is ‘n Engelse uitvindsel.

* Kamele stoor nie water nie, maar vet.

* Slegs 5 uit elke 100,000 paper clips word gebruik om papiere aanmekaar vas te maak.

Al hierdie inligting en nog vele meer kom uit die boek The Book of General Ignorance.

51iybnzr7jl_aa240_.jpg

Written by George Maru

26 November 2007 at 7:03

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.