Archive for November 18th, 2007
Deon Maas: Laaste woorde
Wat bly oor om te sê na al die woede, die geweld, die skok, afgryse? Die mens bly maar een van die kwesbaarste wesens wat nog hierdie aarde bewandel het. Hy is in staat tot soveel. Hy ontwikkel geneesmiddels teen epidemies, verken die buitenste ruim, bied rusplek aan die reisiger en skuiling aan die weduwee. Maar ook verkrag en moor hy, buit mense uit vir eie gewin, en kyk TV as mense in hulle duisende in vreemde lande geslag word.
Keer op keer het die geskiedenis bewys hoe maklik dit vir die mens is om te gly van sy edelste drome en wense na sy skadukant. Pol Pot het ongehinderd menigtes van sy eie mense vermoor. Duitsers het toegekyk hoe Jode, Roma en gays na konsentrasiekampe gestuur is.
Ek herinner myself aan ‘n gesprek van Umberto Eco, waarin hy ‘n opmerking gemaak het oor geloof en ons kwesbaarheid. Selfs al glo ‘n mens nie in die Christengod nie, kan ‘n mens nie anders as om die storie van Christus te bewonder nie en die mens se behoefte aan so ‘n storie. Al glo jy nie in die god se bestaan nie, gryp die verhaal mens aan oor die pre-moderne mens se vermoë om ‘n model van universele liefde en onvoorwaardelike vergifnis so roerend gestalte te kan gee. Dit spreek tot die beste waartoe die mens moreel in staat kan wees; die beste waarvoor hy kan hoop om te word.
‘n Hele geloof is gebou rondom die man Jesus, ‘n geloof wat daarop roem om hierdie boodskap van universele liefde en onvoorwaardelike vergifnis te bely, verkondig, en te leef.
Maar soos Eco tereg opmerk, wys die geskiedenis ons dat die mens nooit kon kersvashou by sy edelste drome nie. Die geskiedenis is die een hartseerverhaal na die ander waar hierdie kwesbare wese keer op keer gefaal het om aan sy mooiste verwagtinge hande en voete te gee.
Vandag is nie anders nie.
Vandag se Rapport noem dr. Kobus Gerber, sekretaris van die NG Kerk, dat die besprekingspunt nie meer Maas is nie, maar hoe Christene opgetree het: “Is dit die Christendom van die evangelie? Hoe verstaan ons mense hoe die grondwet werk?”
Die Rapport vertel van dreigemente, selfs teen persoonlike eiendom. Lees die Afrikaanse blogosfeer. Woorde waarmee Deon Maas beskryf word: werfetter, moerse doos, poes. So kan ‘n mens aangaan. O ja, en dan word die Bybel ook nog bygesleep, asook Maas se boyfriend (?!). Jy steier terug soos jy lees hoe mense woedend hulle haat op rekenaarskerms braak.
SMS-boodskappe en eposse het die land deurkruis. Mense skryf boodskappe dat Rapport vandag geboikot moet, omdat Maas ‘n rubiek gáán skryf wat Satanisme ondersteun. Gáán skryf. Hulle weet nie eers waarvan hier gepraat word nie, maar het ‘n klok iewers hoor lui en gaan terstond aan die marsjeer, soldaatjies vir Jesus.
Hennie Stander is in sy noppies en dominees juig saam. Christene staan op! Christene staan saam! Veg vir die saak.
Lees weer hierbo.
Dit is hoe Christene hulself definieer.
Dit is hoe Christene hulself definieer.
Dit is hoe Christene hulself definieer.
In hierdie optrede.
En waaroor gaan die bohaai? Blykbaar wil Deon Maas Satanisme onder kinders propageer, of so iets. Ek weet nie regtig nie. Ek vermoed Rapport het ‘n ander artikel op die web geplaas, want ek lees dit nie raak nie. Niemand vra om beskaafd gesprek te voer, niemand wil uitvind of hulle Deon Maas reg verstaan het nie. Net haat en vrees word gespoeg waar jy kyk.
Dit is wat blinde geloof aan jou doen. Blinde geloof is ‘n glo-soos-’n-kind-geloof. Blinde geloof is ‘n ek-weet-nie-ek-glo-maar-net-geloof. Blinde geloof word gedryf deur vrees, veral vir die bose. Dit het die afgelope week duidelik geword.
Wat het geword van die boodskap van die transformerende krag van die liefde? Dit is Paulus wat geskryf het: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” ‘n Mens hoef nie saam met Paulus te glo nie, om te weet dat hy hier waar woorde praat oor liefde nie. Geen vrees, geen haat kan in die teenwoordigheid van liefde se transformerende krag staan nie. Liefde trek aan. Dit oorweldig met eenvoud, in stilte, in ‘n kyk.
Dit dryf vrees uit.
‘n Mens kan maar net spekuleer waar die Christendom vandag sou gewees het, as sy meer kon fokus op haar sentrale boodskap.
‘n Mens kan maar net spekuleer. Weer het hierdie sentrale boodskap wat eeue gelede reeds gebore is uit versugtinge na iets groters, iets bewonderenswaardig, iets nastrewenswaardig, verlore gegaan, en bly dit ‘n onbereikbare belofte waarna getas word.
Deon Maas het dalk sy verdiende loon gekry, maar vandag het die Christendom verloor.
My hart huil vir die Christendom.