Archive for November 14th, 2007
Bly of gly?
Dit is weer sulke tyd. So af en toe dink ek aan die e-woord. Dan is ek weer van voor af begeesterd om verder te gaan waar ek laas opgehou het en die emigrasieproses aan die rol te sit. Dit is nou as ek op ‘n land kan besluit om heen uit te wyk.
Weens my persoonlike omstandighede sal Kanada die maklikste opsie wees, m.a.w. die minste papierwerk. Vancouver is mooi, naby die berge en die see. En so 3 ure van Vancouver af is daar ‘n wynstreek by Kelowna. Maar Kanada is koud, baie ver en ek ken niemand daar nie.
Nieu-Seeland is ook ‘n opsie, waarskynlik een van my gunstelinge, ook omdat dit so mooi is, daar berge is en die see nooit te ver nie. Daar is ook baie water. En Wellington is ‘n pragtige stad. Die Nieu-Seelanders wat ek al ontmoet het, is baie aangenaam. Definitief ‘n opsie.
Dan is daar Australië. Ek het my bedenkinge oor ‘n land wat vir John Howard gestem het. En nie net eenkeer nie. Tog is daar baie goeie redes om Australië te kies.
Ek kan seker ‘n klomp redes aanvoer hoekom ek wil uitwyk. Ag, al die gewone redes soos misdaad, dat ek op ‘n skoeter deur die strate wil jaag, sonder die vrees dat ‘n taxi my in die veertiende dimensie sal instamp. Dan is daar ook die vrae, soos of dit nie selfsugtig is nie, hardloop mens nie weg van jou rol hier nie?
As ek egter doodeerlik met myself moet wees, kan ek my redes in een woord saamvat: wanderlust.
Dalk is daar tog ‘n bietjie Afrikaner in my.