riviersonderend

Archive for November 2007

Onthulling

with 10 comments

Die babes (René, sonkind, oopkop) het my getag! Dit beteken dat ek iets van myself moet onthul. Ek het gedog ek kan julle vertel dat ek ‘n taurus is, maar dit sal die nie-tauri net jaloers maak.

So, sonder enige verwyl.

1. Ek het onlangs plek gemaak in my iTunes biblioteek vir Dolly Parton. Dolly Parton mense!

2. Ek drink nie meer saam met lesbiete nie. Sommige lesse leer mens op die harde manier. Ek is blykbaar ‘n sissie wat tequila betref.

3. Ek het al op ‘n bekende Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar se grasperk in Irene gevomeer. Dit is die oorsprong van ‘n baie ongelukkige bynaam.

4. Die TV-reeks Northern Exposure (oorgeklank in Afrikaans as Goeiemôre Alaska) het as inspirasie gedien vir een van my top sexual fantasies. Weens logistieke probleme was dit nog nie uitvoerbaar nie. (Ek sweer my hits gaan vertrippel oor die gebruik van die term “sexual fantasies”. Sexual fantasies. Sexual fantasies. Sexual fantasies.)

5. Ek het al Love on the rocks voor die haaitenk in die Two Oceans Akwarium gekaraoke met ‘n mikrofoon in die een hand en ‘n glas whisky in die ander.

6. Ek kan nie sing nie.

7. Ek het al gepreek. Ook op troues. En eerste ekstra wyn by die bar gaan haal.

8. Ek het nog nooit iets gedoen waaroor ek bitter spyt was nie. Wel goed nie gedoen nie waaroor ek spyt is.

Ek tag vir: die Rev, Karin, idiwidi (as die vrou naby die internets is), alleman, Johan, Hugo, fredddels, Nico en oppietrap (staan op, demmit!). Ek dink die ander is reeds getag.

Written by George Maru

27 November 2007 at 21:39

Posted in sommer net

Tagged with

Gedagtes van oraloor

with 4 comments

Stel jou die Queen voor wat weer iets in die koerante lees van haar kleinkinders wat dronk uit ‘n klub strompel, of Fergie wat aan iemand se tone suig. Sy sal dit lees, lippe styftrek en aankondig: “I am not amused.” Sonder ‘n uitroepteken.

Dit is hoe ek nou oor hierdie jaar voel. Not amused.

Die ding karring voort, terwyl ek beter dinge het om te doen. Alles voeter net voort. Mense doen steeds stuff. Hulle vra vrae. Johan wonder wat mens met ‘n paperclip doen? Gaan Zuma vroue met kort rokkies deluxe storte in Tuynhuis laat installeer wanneer hy president word? Ekself wonder hoekom die honde blikkiesvleis oor hulle pille verkies en nie die wat uit die pouches kom nie? Pouches is oneindig makliker.

Mense doen ook ander goed, soos om onrealistiese eise te stel. Hulle verwag van jou om die southern right se paringsgewoontes te illustreer. Jy vind uit dat jy kan.

Ensovoorts. Ensovoorts.

Maar wat maak dit saak aan die einde van November?

Ek dink aan alles wat nog die jaar moet gebeur. Ek moet my skripsie klaarmaak, al weet ek nie meer of ek in die onderwerp glo nie. Wel, shit happens. Ek moet my motorlisensie wat 3 maande terug verval het, hernieu. Ek moet my bestuurslisensie wat hierdie week verval, hernieu. En ‘n tydelike lisensie kry. En dan ‘n internasionale bestuurslisensie gaan soek. En dan leer om aan die regterkant van die pad te bestuur. En ek moet ‘n jas en ander diverse wintersklere gaan soek. In Desember. In Kaapstad. (Good grief, wat ‘n mens nie vir die Afrikaanse diaspora sal doen nie!) Ek moet wéér aan die polisie verduidelik dat ek ‘n saaknommer nodig het vir my gesteelde asblik.

Maar dit is nie al nie! Nee, intussen oorweeg ek maar om enige pretensies van respektabelheid vir die blog ook oorboord te gooi. Ek wil skryf: “Wag, ek wil iets betekenisvol sê. Iets diep. Waardig.” Ek sal dink aan my lesers wat geteister word met my oppervlakkige mumbo jumbo. Ek sal regmaak. In my kop sal ek dan “Don’t give up” speel vir jou, liewe leser, terwyl ek my verbeel dat jy Kate Bush is. En ek Peter Gabriel.

Ek het reeds temas opgelyn om diep te raak. Hoekom die doodstraf verkeerd is, selfs al is die doel daarvan vergelding. Hoekom ek dink die tyd het aangebreek dat die regering dwelms, soos heroïen en kokaïen aan verslaafdes moet verskaf. Dan moet RMB se vraag seker ook beantwoord word.

Ek wil nog iets sê oor Tenzin Palmo se praatjie verlede week in die Baxter oor “Discovering your sanity“. Maar wat is daar om te sê? Dat ek op ‘n stadium so geraak is, dat dit soos ‘n tuiskoms gevoel het? Dat ek tydens vraetyd weer verlore geraak het?

Dalk moet ek julle eerder begin verveel met die kognitiewe dissonansie wat ek deesdae ervaar as omnivoor?

Nee. Nee. Al hierdie dinge is ‘n gejaag na wind. Nie feestyd se praatjies nie. Wat ek nou nodig het, is om ‘n oomblik rustig terug te sit en te filosofeer oor die lewe se groot vrae. Soos:

Hoeveel grappa is genoeg?

Written by George Maru

26 November 2007 at 21:08

Posted in sommer net

Tagged with

Het jy geweet?

with 5 comments

Goed wat jy gedink het jy weet maar waarskynlik verkeerd is:

* Die land met die meeste tiere is Amerika (hulle bly in dieretuine en word as troeteldiere aangehou).

* Daar was nie ‘n vloek op Toetankamen se graftombe nie (haai nooit!)

* Columbus het gedink die wêreld is peervormig.

* Haggis kom van Griekeland, kilte van Ierland, hoender tikka masala van Glasgow.

* Sjampanje is ‘n Engelse uitvindsel.

* Kamele stoor nie water nie, maar vet.

* Slegs 5 uit elke 100,000 paper clips word gebruik om papiere aanmekaar vas te maak.

Al hierdie inligting en nog vele meer kom uit die boek The Book of General Ignorance.

51iybnzr7jl_aa240_.jpg

Written by George Maru

26 November 2007 at 7:03

Hier kom die son

with 2 comments

Die Sonne scheint mir aus den Augen
sie wird heut Nacht nicht untergehen
und die Welt zählt laut bis zehn…

Sneeuwitjie soos jy haar nog nie gesien het nie.

Written by George Maru

24 November 2007 at 17:31

Posted in musiek

Tagged with

‘n Perfekte Kersfees

with 2 comments

Vandag gaan stap ek met die honde. Dit is ‘n lieflike somersdag; effe winderig, maar die honde gee nie om nie. Terwyl ek hulle vasstrop, dink ek: “Julle stink; ek moet julle bietjie bad.” Daarvoor gee hulle ook nie om nie.

Ek gaan loop met hulle op my gunstelingduin vanwaar ek kyk hoe Tafelberg en Tafelbaai kompetisie hou oor wie vandag die blouste is. My iPod gaan ook saam en Cesaria Evora sing saam met Youssou N’dour Africa Nossa. Dit is musiek wat jou gemoed laat groove, of jy nou dikbek is of nie. As die kaalvoet-ouma van die Kaap Verdiese eilande sing, stel sy nie in sad stories belang nie. “Fok jou, kom ons dans,” hoor ek haar sing.

Op my duin begin my boude onwillekeurig wikkel, terwyl die honde ‘n sinnelose stryd voer om ‘n gat in die duin uit te grawe. En ek dink so by myself dat hierdie ‘n perfekte dag is. Perfek, soos in die song, julle weet. Hier is dit vir diegene wat nou met ‘n blank uitdrukking na die rekenaarskerm staar:

Dit neem so min om die perfekte dag te hê.

Toe dink ek aan wat Die Gestorwe Soldaat geskryf het oor die kinders van die Abraham Kriel-kinderhuis se kersfeeswense. Gaan lees hier meer daaroor. Hierdie kinders vra nie vir veel nie.

kinders.gif

Dalk net vir ‘n perfekte Kersfees.

En dit is nie so moeilik om dit vir hulle te gee nie.

Toe, toe. Kliek, kliek. Wikkel daai boude.

Written by George Maru

22 November 2007 at 17:12

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.