riviersonderend

Archive for Oktober 8th, 2007

Ek lê die pen neer

with 21 comments

Ek sou nooit kon raai dat die hele blogbedryf so lekker kon raak nie. Wel, vir my ten minste. Lesers mag anders voel. Ek weet dat ek oor ‘n jaar of twee weer bietjie gaan lees wat ek geskryf het, en vir myself lag, en dink: “Simpel drol.” Dan sal ek my op die skouer klop en myself vertel dat ek nou van beter weet.

Dit is alles goed en wel. Maar ek weet ook dat daar verandering in die lug is. Dit is die Prediker wat geskryf het dat elke ding sy vaste tyd het. Daar is ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om te bou. (Ek flankeer weer so bietjie met die fossiel, omdat die boek ‘n wonderlike manier het om die sinloosheid van hierdie eksperiment te beskryf.)

Toe ek die blog begin het, het ek baie oor godsdiens geskryf. Teen die tyd is dit sekerlik nie ‘n geheim waar ek ten opsigte van godsdiens staan nie. Lesers wat van die begin af hier gelees het, sal seker nog die berugte Los Jesus liewers by die kerk inskrywing onthou. Good grief. Ek onthou nog die emails! Daar was nog. Ek word gereeld aan hulle herinner as ek sien hoe mense op die blog afkom.

Maar die tyd om af te breek is nou verby. Lesers wat primêr hier gelees het vir die godsdienstige inskrywings (m.a.w. niemand nie), mag dalk teleurgesteld wees. Ek lê die pen neer oor geloof, die kerk en godsdiens. My hart is nie daarin nie. Ek het onlangs al die nuus feeds oor hierdie onderwerpe verwyder. Daardie stroom het nou opgedroog.

Miskien is ‘n paar persoonlike opmerkings in orde vir konteks. Die godsdienstige wêreld was van kleins af my natuurlike tuiste. Daarom was die keuse om teologie te gaan swot vir my vanselfsprekend. Hoe langer ek geswot het, hoe meer het die kerk se geestelike geweld teen mense my begin pla. In my vyfde jaar, het ek besluit dat ek nie ‘n dominee wíl word nie.

Ek het nog probeer kerk toe gaan, maar dit het nie te lank gehou nie. Een middag het ek ‘n afspraak by dominee X gemaak om te probeer red wat daar nog te redde was, al was dit reeds te laat. Jy sien in slow motion hoe die glas val. Ek het buite op die kerk se trap gaan sit en ‘n bietjie gegrens vir sentimentele redes, opgestaan, weggeloop, omgedraai en vir liewe Jesus vir oulaas koebaai gewuif. A myth has just been shattered.

So ek dink mens neem maar ‘n tyd om dit wat eens soveel saak gemaak het uit jou gestel te kry. Jy stap die pad wat jy stap. Tog het ek ook besef dat ek halfhartig skryf oor geloofsake, want eintlik wil ek nie meer nie. Ek stel nie meer genoeg belang nie.

Ek sluit dus hiedie gesprek op riviersonderend af met ‘n laaste opmerking. Ek stem saam dat daar twee tipes teologie is: goed en sleg. Goeie teologie neem jou op die weg van groter verdraagsaamheid en omgee vir jou medemens. Slegte teologie maak jou onverdraagsaam en blind vir jou medemens. As jy goeie teologie bedryf: seën vir jou. Gaan in vrede. As jy slegte teologie bedryf: jou moer.

Die tyd om op te bou het nou aangebreek.

Viva!

Written by George Maru

8 Oktober 2007 at 22:13

Posted in sommer net

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.