riviersonderend

Archive for September 24th, 2007

George gaan plaas toe en doen nuwe kennis op

with 15 comments

Wat het alles hierdie langnaweek gebeur?

Ek was plaas toe, het takboksosaties geëet, van Servaas op die toilet gelees, meer te wete gekom van die bergkwagga se kopulasie-gewoontes, nuwe insig verkry in die psige van die moderne vrou, stories oor ongediertes gehoor en ‘n kaktusplaas besoek. Onder andere.

Intussen het dinge hier in die stad verander. My eie blog, riviersonderend, sien my boodskappe as spam aan. Dit mag moontlik ‘n teken wees dat ek moet minder nonsens skryf. Dus, het ek besluit om liewers my nuutgevonde kennis oor alles en nog wat met julle te deel. Van nou af is hierdie ‘n opvoedkundige blog.

  • Daar is takbokke in die Karoo – die soort wat familie is van Rudolph. Ek weet, want ek het een geëet (of ‘n deel van een). Die takbokke wei net hoog op en gaan nie laer as ‘n sekere kontoerlyn nie (ek het vergeet op watter lyn hulle halstarrig raak). Takbok smaak effe soos lewer.

  • ‘n Mens kan marijuana sjampoe in Barrydale koop. Dit is glo van hoogstaande gehalte.

  • Servaas Hofmeyr was Montagu se eerste predikant. Nadat hy beroep is, het hy sy tyd geneem om daar uit te kom van Colesberg af. Sy preke het 3 herlewings op die dorp veroorsaak.

  • D.F. Malan was vir ‘n paar jaar predikant op Montagu. Hy was 31 en nog ongetroud. (Spekuleer gerus oor hoekom dit die geval was. Onthou: 100 jaar gelede moes ‘n man van 31 darem al 5.8 kinders gehad het! O, en ‘n getroue vroutjietjie.) Later het hy diep spore in die openbare lewe getrap.

  • Die N.G. Kerk het in 2004 150 jaar geword, volgens die 2004 Kalender in die toilet.

  • Tydens paringstyd kopuleer die bergkwagga ‘n paar sekondes elke dag vir ‘n maand lank. (Ek wou meer hieroor skryf, maar ek is te gedaan om ‘n kwaliteit vs. kwantiteit debat van stapel te stuur. Vir sommige word daardie keuse gemaak.) Meer inligting is in September 2007 se Jag & Wild beskikbaar.

  • Die moderne vrou braai graag vleis, en brandmerk haar linkertiet met die rooster. Sy drink Bon Courage Blush Vin Doux en laat dan 80% van die tjops in die kole land.

  • Die moderne vrou maak terloopse opmerkings in geselskap, soos: “Sy boonste hare lyk nie dieselfde as sy onderste hare nie.”

  • Die moderne vrou droom dat sy en Rassie Erasmus ‘n affair het, en bespreek dit dan die volgende oggend met haar partner.

  • Die moderne vrou het ook prikkeldrome oor Ricky Martin waarin hy vlot Afrikaans praat.

  • Die moderne vrou is nie skaam dat sy van Ricky Martin droom nie.

  • Jakkalse is baie slim. Rooikatte is effe dom. Dit is baie makliker om rooikatte in hokke en slagysters te vang as jakkalse. Daarom is dit beter om jakkalse in die nag te gaan jag, met so ‘n toeter ding wat soos ‘n jakkals klink, of ‘n lammetjie in nood. Die jakkalse kom dan vinnig aangedraf, sodat jy hulle kan pot.

Ek weet nie wat die ding se naam is nie:

Dis al.

Written by George Maru

24 September 2007 at 17:51

Posted in sommer net

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.