Archive for September 15th, 2007
Amen! Amen! Amen!
Via Blik kom ek op hierdie artikel in Beeld af: By: Afrikaner-vryheid en ‘die dood van God’. Daar is soveel in die artikel waarmee ek akkoord gaan. Labuschagne skryf:
Maar my eie kultuur, die Afrikaner-kultuur, staan nog onder die beheer van die Christelike kerk. Organisasies soos die ATKV, die FAK en die Vryheidsfront Plus, wat die eie koester, is so ineengestrengel met Christelikheid dat enige nie-Christen geensins ’n pad kan oopsien om tot hulle te behoort nie.
Honderde Afrikaners is lief vir hul eie en trots op hul geskiedenis, maar is nie Christene nie en word so deur deur hul eie organisasies verstoot.
Dit is dan ironies dat daar soveel keer in die media gepraat word van die transformasie wat in Afrikaner-geledere moet plaasvind in die vorm van groter inklusiwiteit, maar dit is eintlik ’n klug, want dit is net transformasie ten opsigte van ras. Wat van inklusiwiteit ten opsigte van geloof?
Hoekom is daar in Beeld byvoorbeeld geen ander spreker aan die beurt in die rubriek Godsdiens Aktueel as Christene nie? Wat van die ander verskeidenheid gelowe, insluitend ateïsme, wat nooit ’n geleentheid gebied word nie? Kerklui sal natuurlik daarteen skop dat Afrikaans versekulariseer of inklusiewer raak, want hulle het ’n wesenlike, finansiële belang daarby dat die Christelike oorheersing van die Afrikaner-kultuur gehandhaaf word.
Myns insiens het die Christelike geloof nie net die Afrikaner-kultuur gedomineer nie, maar dit ook benadeel. Die Christelike siening van erfsonde, wat sy uiterste in die Calvinisme bereik het, het tot miljoene mense met ’n permanent beskadigde selfbeeld gelei.
Ten minste het Europeërs ’n meer gematigde, effens humanistiese kultuur gehad, wat die individu ’n stewige selfbeeld toegelaat het.
Maar o wee, in die Calvinistiese tradisie is die individu tot op die grond afgebreek. Selfs jou eie redding kan jy nie self bewerkstellig nie, want jy is eenvoudig te sondig (lees: sleg) daarvoor.
Ek kan nie my afkeur in Calvinisme sterk genoeg uitdruk nie. Die letsels wat dit op die Afrikaner-psige gelaat het, gaan nog lank met ons wees. Calvinisme se enigste doel is om ‘n “command and control” struktuur in stand te hou waar mense in voortdurende vrees leef, maar deur die bemiddeling van die “leier” redding sal vind. In daardie opsig, is die Afrikaner presies dieselfde as die res van Afrika se fiksasie met die leierkultus: Verwoerd, Malan, Constand Viljoen en nou De la Rey… Maar ‘n leier het ons nodig om ons te red, want ons situasie is so kak. Ons is so kak. (Daarom is almal om ons so kak.) HALLOOOO!!!! Calvyn!!!!
Labuschagne gaan aan:
Dit is op dié swak selfbeeld dat die magshebbers gedurig hamer. Mense is met skuldgevoel gemanipuleer om kanonvoer in die stryd teen die kommunisme te wees en mense word met skuldgevoel gemanipuleer om swart oorheersing te aanvaar.
…
Kultuur- en nasionale organisasies is moreel verplig om nie-Christen-Afrikaners ook ruimte te gee in hul organisasies en dit nie meer op Christelike eksklusiwiteit te grond nie.
Ek wil daarom almal wat Afrikaners is maar nie Christene is nie, uitnooi om uit die kas te kom en opstaan om getel te word. En dit so eens en vir altyd duidelik maak dat Afrikaansheid nie net aan Christene behoort nie.
Ek weet nie wat hy met swart oorheersing bedoel nie, maar oor die res: Amen! Amen! Amen! Ek voel trots om sulke woorde in Afrikaans te lees, alhoewel ek op die oomblik nie besonders trots daarop is om ‘n Afrikaner te wees nie. Dit is selfs nie in my top-10 lysie van “Ek is…” nie, maar so maklik raak die Afrikaner ook nie van my ontslae nie.
Ek pas dalk nie in jou kerk, jou kultuurorganisasies, jou politiek of jou sport (rugby en krieket) in nie, maar ek is steeds hier.
Ek gaan nêrens.
Disclaimer: Ek wil darem net noem dat nie alle kerkleiers (dominees) so is nie. Sommige is heel cool en rock. Seriously.