Archive for September 5th, 2007
O, Anna jy’s my blom!
Dit is een van die dae die Rugby Wêreldbeker. Suid-Afrika het ook ‘n span ingeskryf vir die okkasie.
Eintlik is ek huiwerig om weer ‘n sport-post te maak, want my vorige een is volledig geïgnoreer. Ek gaan egter nie voorspellings maak oor wat gaan gebeur nie, want ek het nog nie die sterre geraadpleeg nie.
Ek sal eerder ‘n lysie maak van die top 5 spanne waarvan ek hou en wie ek wens moet wen:
1. Suid-Afrika; Frankryk
3. Nieu-Seeland
4. Ierland
5. Australië
Hoe cool sal dit nie wees as 4 van die spanne die halfeinstryd haal nie!
En nou terug na die week van poësie. Verlede jaar het Antjie Krog uit haar nuwe bundel, Verweerskrif, voorgelees tydens die Versindaba. Ek weet nie of dit poëties korrek is om ‘n bundel as “pret” te bestempel nie. Verweerskrif is pret. En briljant. En al die ander byvoeglike naamwoorde wat pas by een van ons grootste, lewende digters.
Ek sou graag Manifes van ‘n Ouma wou plaas, maar dit is te lank en ek te lui.
vertrekkende
‘n kind vertrek. ek bly staan. bekende
oë groet voordat die donkerbril.
hande wat op die sitplekgordel soek.
die straat verlate. ek waai waai. dis of
alle lig taan. of alles killer wil. of my hart
die blaam weier. alles wat gesê moes
word. na elke vertrek beraam ek taal.
om te verduidelik. hoe om volgende keer.
die gevoel van skroei deur my ribbes. ek
onderneem om maniere te vind. om wat
ons bind verbaal te uiter. so min is dit
wat jy wil hoor. die ongesêde bloedbelope
desperaat gemikte vuishou. of dit die smoel
voluit tref. jissis! ek bloei, kind.