Archive for September 4, 2007

My nagte saam met Van Wyk

Daar was ‘n tyd in my lewe wat ek myself geprostituseer het vir ‘n warm bed, ‘n stukkie brood en sjekel-koepons. In ruil daarvoor het ek bedags ‘n blou pakkie aangetrek, eiers uitgepak vir Ida, potte geskrop en Maandae – as ek gelukkig was en die faait met A. gewen het – pizza gemaak.

Die lewe van ‘n kibboetsniek op die kibboets Ma’anit, naby Hadera, was nie maklik nie. Veral nie as jy in die kombuis gewerk het nie. Dit was egter nie so erg soos arme Sarah wat suicidal hoenners moes veg vir hulle eiers nie. Sy het dikwels verloor.

My lewe het aansienlik makliker geraak, nadat die kokke besluit het om nie langer direk met my te kommunikeer nie. Opdragte is via A. aan my oorgedra. Maar dit is ‘n ander storie. Ek is blykbaar effe s-l-o-w. Dit het veral gebeur as iemand op my gegil het.

Ida, ‘n 42-jarige kibboetsniek en moeder van Brasilië, was in beheer van ontbyt. Die hoofkok het haar uitgetrap as sy mooi, heel eiers gebruik het. Net die verleptes was goed genoeg vir die mense, totdat Ida een oggend bemoerd al die eiers gebreek het, en uitgeroep het: “There! Now they are all broken!” Dit was die einde van die eieruitsoekery.

Op die kibboets het ek ‘n vegetariër geword, nadat ek en A. ontelbare kalkoene moes opsny vir goulash. Dit was te veel. Die visopkappery was erger, omdat jy – sonder handskoene – moes vroetel vir die vis in houers met arktiese water in. Aangesien ons in die land van wonderwerke was, is dit seker geen verrassing dat daar altyd nog vis was. Sug. Die water het ook nie warmer geword nie. Wonderwerke voorwaar. Maar die ergste was die Superette-advertensie wat elke 5 minute oor die radio geblêr het.

Tot 2 uur die middag. Dan is jou tyd jou eie en spring jy op die bus om die land te sien. Caesarea, Nasaret, Netanya ens. Jy gaan kyk na waar Armageddon gaan plaasvind, loop deur funny tonnels, besoek die Lebanon-grens (ja, ek het gevaarlik geleef), sit op busse langs meisies wat hulle gewere skoonmaak (ja, ek het gevaarlik geleef) en word nog pie-ende uit ‘n bushalte se toilet deur soldate verwyder. Bomdreigement (shit, ek was jonk!). Net soos laerskool op “Sowetodag”.

Good grief.

Saans het ons Goldstar bier gedrink, terwyl A. van Barcelona my Spaans geleer het en L. oor ‘n cute Spaanse outjie gekwyl het. Ons sou ook op onwettige plekke gaan stort.

Later, wanneer ‘n baldadige maan reeds hoog gehang het, en sorgelose kibboetsnieks skelm oor die heining geklouter het om in die swembad te fornikeer, het my vingers hulle weg gevind na NP van Wyk Louw se Versamelde Werke. Eers het ek effe skuldig gevoel dat ek eerder dit wou lees as die Bybel. This also came to pass. Van Wyk Louw se verse het my stiltetyd geword in daardie rondomtalie-seisoen. Die oorgawe was volkome.

Ek het gelees, gesien, gedoen, ervaar.

Ek is mens. Goed en sleg. In ‘n wêreld, groter en interessanter as my wildste drome. Welkom, groot seun.

XVII

Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.
(Uit: Tristia) *

***

As ek so dink

As ek so dink dat ek jou nooit weer sien,
dat jy voortaan vir my ‘n herinnering
sal wees wat valer word tot ek miskien
- as die ouderdom sy dowwe wysheid bring -
jou naam en die grysblou van jou oë vergeet,
vergeet jy was vir my in plaas van God,
en flouweg praat, soos een wat alles weet
van kinderliefde en nóu sien dis verspot; -
dan gaan ek langs afgrondelike weë:
hoe trots het andere voor my ook gedink
hul het die liefde wat onsterflik is,
en ek, late vaarder, God, op hierdie seë,
moet glimlag dat daar haat en liefde is
waar alles in die eeue moet versink.
(Uit: Die Halwe Kring)

* Ek het al hier oor Catullus se gedig “odi et amo” geskryf waarna hierdie gedig verwys.

Comments (8)