Archive for September 3rd, 2007
Soms is ek simpel
En dan put ek intense welbehae uit sulke verskynsels (hoe sal mens dit anders beskryf?):
Daar is nie pille wat help nie. Maar ek weet ook dat ek nie alleen is nie. Ek gaan sommer tolletjiebrei uit pure opgewondenheid!
Nou toe.
Op ‘n meer ernstige noot: vandag se gedig is van Elisabeth Eybers, ‘n naam wat jy net fluister met die nodige respek. Ek vind dit besonders moeilik om ‘n gedig van haar te kies, bloot omdat daar so baie is. Tog het ek besluit om een van haar gedigte wat ons op skool behandel het, te plaas vir sentimentele redes: Twee kleuters in die Vondelpark.
Die beeld wat die gedig by my opgeroep het, het ek deur die jare bly besoek. Dit dwaal steeds in my onderbewuste rond.
Twee kleuters in die Vondelpark bly staan
‘n klein oneindigheid lank hand-in-hand.
Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:
gesplete hart van hals en dubbelhals,
geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,
geslote snawel dynserig vervals
met eenkant lug en water anderkant.
Versadig van die roerlose gesig
pluk hy – die seuntjie – plotseling aan haar hand
vir verdergaan, sleep haar tot ewewig
as sy nog strompelend omkyk na die swaan.
Verby die bome druis die straatrumoer.
Van skopfiets tot trapfiets gepromoveer,
bromfiets tot motor, sal hy konstateer
- die wiel sy ordeteken – dat hy lid
is van die kollektiewe Lilliput.
Maar sý sien webbe onderwater roer.
Miskien is dit die laaste dag van staar
en grondelose verwondering. Wat sou
hý, weerloos wordend, wees oor dertig jaar?
‘n Saaklike barbaar, ‘n fyn sadis,
‘n doktrinêre Hollandse meneer?
En sý ‘n druk slagvaardige mevrou
met ‘n allure van dít-is-soos-dit-is?
Die swaan bly oor sy dubbelbeeld gekeer.