Archive for September 2nd, 2007
Versindaba
Dit is een van die dae weer tyd vir die Versindaba (6-8 September, Stellenbosch). Ter viering daarvan, en ook omdat ek so lanklaas ‘n gedig geplaas het, verklaar ek die week as ‘n week van poësie.
Ek dink dit is heel gepas om by een van my gunstelingdigters te begin. Natuurlik praat ek van Breyten Breytenbach!
***
ek sal sterf en na my vader gaan
Wellington toe met lang bene
blink in die lig
waar die kamers swaar en donker is
waar sterre soos seemeeue sit op die nok
en engele vir wurms spit in die tuin,
ek sal sterf en met min bagasie
in die pad val
die Wellingtonse berge oor
tussen die bome en die skemer deur
en na my vader gaan;
die son sal in die aarde klop
die wind se branders laat die voeë kraak
ons hoor die huurders
skuurloop bo ons kop,
ons sal dambord speel op die agterstoep
- ouvader kul -
en oor die radio
luister na die nag se nuus
vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie;
ons kom en ons gaan
is soos die water uit die kraan so
soos klanke uit die mond
soos ons kom en ons gaan:
ons béne sal die vryheid kén -
kom saam
in my sterf in in my na my vader gaan
Wellington toe waar die engele
met wurms vet sterre uit die hemel hengel;
laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:
mý vader het ‘n groot bôrdienghuis