riviersonderend

Archive for Augustus 2007

Moeder Teresa se twyfel

with 30 comments

‘n Nuwe boek oor Moeder Teresa bevat van haar briewe wat sy aan haar hoofde en vriende geskryf het. Alhoewel sy versoek het dat dit vernietig word na haar dood, is dit nooit gedoen nie. Uit haar briewe word dit duidelik dat Moeder Teresa nie net haar geloof bevraagteken het nie, maar ook die bestaan van God. Sy skryf:

Where is my faith? Even deep down… there is nothing but emptiness and darkness… If there be God — please forgive me.

Such deep longing for God… Repulsed, empty, no faith, no love, no zeal.

What do I labour for? If there be no God, there can be no soul. If there be no soul then, Jesus, You also are not true.

Twee dinge val my op.

Die briewe met haar twyfel word as getuienis ter ondersteuning van haar heiligmaking aangebied. In hoe ‘n mate is kerke bereid om twyfel te verdra en selfs aan te moedig? Daar is verseker ‘n afsnypunt. Twyfel word net tot op ‘n sekere punt verdra. Neem die NG Kerk as ‘n voorbeeld.

Is dit enigsins moontlik om jou lewe te wy aan mense in die slums van Kolkata, en nie te twyfel in die bestaan van ‘n liefdevolle, almagtige God wat immanent betrokke is in die wêreld nie?

Written by George Maru

25 Augustus 2007 at 7:47

Spitstyd manewales

with 6 comments

Spitstyd. Dit gebeur met almal. Sommige mense beleef dit 5 dae van die week. As jy in Gauteng bly en naweke mall en kerk toe gaan, dan is dit 7 dae.

Dit voel altyd vir my na ‘n geweldige vermorsing van tyd om soveel ure niks te doen nie. Tiek tok. Tiek tok. Die tyd stap aan. Maar jy beweeg nie. Tog is daar mense wat spitstyd produktief gebruik deur byvoorbeeld ‘n date te organiseer.

Blykbaar gebeur dit. Boeboe sien vir Gogo naderkom, verbygaan, en weer naderkom, en dink: “Naais.” Niks gebeur vinnig nie. Boeboe pomp die pedaal effentjies, gly 10 cm vorentoe en draai briek aan. Gogo probeer ongesiens vlugtig links kyk en staar dan weer na CA123980. Naaaiissss.

Dit logistieke aspek bly egter vir my ‘n misterie. Hoe maak mens om ‘n date in spitstyd te kry? Griffel jy jou telefoonnommer op ‘n papiertjie en druk dit stewig met jou regterduim (sonder om desperaat voor te kom) teen die vensterruit? Gevolg deur een van daai glimlagte wat ek nie kan namaak nie. Maar sê nou die verkeer begin skielik in die baan langs jou beweeg en tannie Soekie in haar Mazdatjie skuif vriendelik langs jou in? Ek weet werklik nie hoe die mense dit doen nie.

Daar is natuurlik ‘n onfeilbare manier om ‘n telefoonnommer te kry. Laat jou voet net effe swaar op die petrolpedaal rus. Voila. Maar daar is bepaalde risiko’s hieraan verbonde. Jy wil net ‘n byna onwaarneembare duik in die objek van jou affeksie se bumper maak. Nie die kar vir 3 weke by die paneelkloppers inboek nie. Dit gaan jou nie ‘n date verseker nie. En almal het nie noodwendig die gawe gekry om ‘n petrolpedaal saggies en teer te hanteer nie.

So as jy nie ‘n knap spitstydvryer is nie, wat anders is daar om te doen? Wel, ek het al gesien dat sommige vrouens hulself grimeer. As ek hulle sien en agter hulle ry, is ek geweldig verlig. As ek voor hulle ry, verlaat ek sonder versuim die pad. Onmiddellik. Ek gaan nie by die begin verby nie.

Ek het ook al iemand gesien tandeborsel. Ja, ek het gestaar en begin wonder oor sekere logistieke aspekte en toe liewers uitdrukkingloos voor my gestaar. Nasty.

Wat doen jy om die tyd in spitstyd om te kry? Of is jy gelukkig om net die stuurwiel in ‘n pythoniaanse greep vas te klem en voor jou te staar? Kyk nie regs nie. Kyk nie links nie. Sit net met ‘n moerse frons en saamgeperste lippe, terwyl jy na die nommerplaat voor jou staar. So asof daar ‘n geheime kode in CA123980 (wonder ek nou of die nommerplaat aan iemand behoort) opgesluit is.

Dalk is dit juis ‘n goeie ding om vir daardie tyd niks te doen nie en jou kop leeg te maak. Toegegee, dit is nie moontlik as jy jou roete met vele taxibestuurders deel nie. Ongelukkig het ek nie vir jou raad nie.

Of dalk. Miskien. Wie weet.

Luister na Aretha.

Ah hah. Ah hah. Ah ha-a-a-a-ah.

O-o-o-o-o-o-h. O-o-o-o-o-h.

Oh hoh. Oh h-o-o-o-o-o-h. H-o-o-o-o-o-h-h-h.

H-a-a-a-a-h hah hah. A-a-a-a-a-a-a-h-h-h.

O-o-o-o-o-o-h. O-o-o-o-o-h.

Oh Baby.

Yeah Baby.

Baby.

Asemhalingsoefeninge werk vir my.

Written by George Maru

23 Augustus 2007 at 21:03

Posted in musiek, sommer net

1101010011001001111

with 14 comments

Bogenoemde is ‘n binêre gebed. Jaron Lanier berig in sy artikel, Peace through God, oor ‘n kultus in Brasilië wat in rekenaartaal bid. Hulle gebruik binêre kodes (ene en nulle) om mee te bid, aangesien hulle glo dat die heelal ‘n massiewe rekenaar is.

Ek hoop net dat die heelal nie op Windows hardloop nie, want dan moet julle gereed maak om die “blue screen of death” binnekort te ontmoet. Skielik verstaan ek Asterix-hulle se vrees dat die hemel gaan val, beter.

Die kultus se idees laat mens wonder: wanneer raak geloof absurd en belaglik? Is daar ‘n manier om dit te meet? Of is dit juis die probleem met geloof, omdat daar geen objektiewe maatstawwe is nie?

Ns. Lanier se artikel belig ‘n paar interessante punte in die debat oor wetenskap vs. geloof, asook Dawkins et al. se aggressiewe styl. Die artikel verdien verdere oorweging en ek kan die artikel aanbeveel vir diegene wat hierin belangstel. Dalk blog ek later meer daaroor.

Written by George Maru

20 Augustus 2007 at 23:02

Posted in godsdiens

Lui die klokke nog?

with 11 comments

Verlede week stap ek so sesuur die aand in Loopstraat, toe ek die oproep tot die aandgebed van ‘n nabygeleë moskee hoor. Ek laat toe dat sy sang my meevoer na ‘n anderwêreldse ruimte waar daar nie onnodige vrae is nie; net skoonheid. Ek voel gemaklik, ontvanklik en tevrede.

Dan is ek weer terug in die straat en sien ‘n volla wat liefs in die 60s moes gebly het, ‘n ou wat sy motorfiets stoot (seker een van daai dae) en mense wat doelgerig na iewers masjeer (opzij, opzij, opzij, hoor ek Herman van Veen sing).

Ek verwonder my oor my reaksie en glimlag. Ek is nie eers mal oor Islam nie.

Toe dink ek aan kerkklokke. Ek hoor nou al vir jare nie meer kerkklokke op Sondae nie. Bly ek net nie naby genoeg aan ‘n kerk nie? Word die kerkklokke nog gelui?

Ek onthou nog as kind hoe die klokke op Sondae op die dorp gelui het. Die lekkerste was as jy dit kon hoor, maar die dag afgehad het en by die huis kon bly. Gelukkig het die klokke darem nie so hard gelui dat dit jou sou wakkermaak nie. Anders as in Nederland, waar die nuwe priester in Tilburg met $6,800 beboet is, omdat hy die klokke te hard gelui het. En dit sewe-uur in die oggend.

Written by George Maru

19 Augustus 2007 at 21:50

Posted in godsdiens

Hiert!

with one comment

Dat ‘n parkbankie in Koningin Victoriastraat my vlugtig die skrik op die lyf kon jaag.

bank.jpg

Ek knyp myself; knip my oë. Nee, dit is nog steeds 2007. Dankie tog.

Written by George Maru

18 Augustus 2007 at 14:06

Posted in sommer net

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.