riviersonderend

Archive for Julie 4th, 2007

Jackaroo se slangvel-onderbroek

with 11 comments

Ek praat weer oor onderbroeke. Maar hierdie post is actually ernstig. Ek belowe. So ‘n paar dae gelede het Boer in Ballingskap geskryf oor hoe suksesvol Australië is. Rugby, swem, enige sport, wyn, maak nie saak nie, hulle sit ons ore aan.

Een van Australië se onlangse suksesverhale is Aussiebum wat onderbroeke en swembroeke vir mans maak. Dit word bestempel as die wonderbra van onderbroeke, as gevolg van die ekstra lift wat dit verskaf.

Onlangs het Aussiebum ‘n nuwe reeks bekend gestel wat inspirasie uit die natuur geput het – iets waarvan Afrika baie het. Jy kry slangvel-, tiervel- en kameelperdvel-onderbroeke vir die kieskeurige, selfversekerde man. ‘n Voorbeeld van Jackaroo met die slangvel.

slangvel.jpg

Goed, fokus nou weer op die storie.

Teen USD 35 vir jou eie stukkie slangvel, kan Aussiebum nie te sleg besigheid doen nie. Inteendeel, dit gaan heel goed met die maatskappy.

Almal weet dat jy moeilikheid soek om tot die teksielbedryf toe te tree in die 21ste eeuse ekonomie as jy nie in China ‘n onderneming het nie. Die afgelope tyd het die tekstielbedryf in Suid-Afrika geweldig swaar gekry. Baie maatskappye oorleef skaars te midde van die Chinese kompetisie. Danksy kwotas kan die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf nog asem haal.

Tog is daar maatskappye soos Aussiebum wat geweldig suksesvol is, ten spyte van die Chinese bedreiging. Hoe is dit moontlik? As jy nie op prys kan kompeteer nie, vind ‘n nismark waar jou handelsmerk jou sterkste wapen is. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan.

Myns insiens is kreatiwiteit geweldig belangrik om dit te kan vermag. Jy het mense nodig wat hulle tydgees akkuraat kan opsom, die gevoel kan bottel en bemark. Ek is bevrees dat ‘n land soos Australië ons ver vooruit is wat dit betref. Suid-Afrika het meer kreatiewe entrepreneurs en intrapreneurs nodig om met lande soos Australië te kan meeding in die globale ekonomie.

Tensy ons nie gaan begin om hierdie gees van kreatiwiteit by ons jeug te kweek nie, gaan ons nooit kan saampraat nie. Dit begin natuurlik op skool. Ek is nie seker hoe die skoolstelsel vandag daar uitsien nie, maar ‘n paar jaar terug was daar nie ruimte vir kreatiewe denke nie. Doen soos ek jou sê om te doen, en bly stil. As jy jou mond oopmaak, was jy rebels.

Dit is so jammer dat ons nie kan raaksien hoe ons kortsugtige denke ‘n invloed het op die groter sisteem nie. As jy grootgemaak word om nie vrae te vra nie en om dinge op die “aanvaarbare” manier te doen, is jy hopeloos onvoorbereid om vinnig te reageer te midde van vinnig-veranderende industrie omstandighede.

Tot tyd en wyl ons die probleem kan aanspreek, sal Ramkat maar Woollies-onderbroeke – wat jy 3 in ‘n pak koop – moet dra, terwyl Jackaroo in Afrika se bosse avonture het in sy slangvel.

Written by George Maru

4 Julie 2007 at 9:59

Posted in afrika, nuus, so gay!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.