riviersonderend

Archive for Julie 2nd, 2007

Afrika se “image problem”

with 6 comments

Time berig dat beleggers skrikkerig is om in Afrika te belê, Where Investors Fear to Tread. Ten spyte van die feit dat Afrika se ekonomieë sterk groei, bly beleggers versigitig.

In die artikel beweer Mo Ibrahim, ‘n Sudanees-gebore sakeman: “We are fighting an image problem.” Ibrahim verteenwoordig ‘n gewilde sentiment in Afrika. Die buiteland het die verkeerde persepsie van Afrika. Selfs Suid-Afrika se president, Thabo Mbeki, vra dat die buitelandse pers meer regverdig oor Afrika berig. Afrika sal sukkel om beleggers te lok, solank die kontinent se probleme gesien word as ‘n “image problem”.

Daar is wesenlike probleme wat die kontinent moet aanspreek om ernstig opgeneem te word deur buitelandse beleggers. Deur die probleem as ‘n “image problem” te sien, ontken jy die probleem. Beleggers investeer waar die risiko’s die laagste is en die winsmarges die grootste is. Dit is die realiteit van kapitalisme. Afrika het heelwat potensiaal om beleggers bogemiddelde opbrengste te lewer. Die gepaardgaande risiko’s is dikwels net so hoog, wat die beleggingsgeleentheid minder aanloklik maak.

Solank Afrika nie ernstig is oor die risiko’s nie, sal beleggers versigtig bly. Korrupsie word as die grootste rede aangevoer waarom beleggers versigtig bly. Neem ‘n land soos Angola. Die land se ekonomie groei teen ‘n verstommende koers, as gevolg van oliehulpbronne. Tog word weinig van die winste teruggeploeg in die land se infrastruktuur. Daar is biljoene oliedollars waarvoor niemand kan verantwoording doen nie. Dit skep nie sakevertroue nie.

Zimbabwe dreig om besighede te nasionaliseer. Waarom sal buitelandse beleggers belê in lande waar hulle hul belegging kan verloor? Soedan is in ‘n burgeroorlog betrokke. Twee van Afrika se beweerde voorbeelde van goeie regering, Ethiopië en Eritrea, staan weer op die vooraand van oorlog oor woestynsand. Nigerië is een van die korrupste lande in die wêreld. In baie Afrikalande is daar nie sprake van sterk burgerlike instellings nie. As die howe handpoppe van die regering is, na wie kan jy jou wend? Dit skep nie sakevertroue nie.

Afrika se suksesvolste en grootste ekonomie, Suid-Afrika, word in die artikel as volg getipeer:

South Africa, where 28% of firms see corruption as a “severe problem,” is said to be hobbled by “the business costs of crime and violence and the unreliability of police services to protect from crime.”

Misdaadstatistiek wat later die week bekend gemaak word, gaan die onrusbarende tendens onderstreep.

‘n Mens kan seker redeneer dat elke land sy probleme het, en dat mens nie die hele kontinent moet veroordeel vir ‘n paar se foute nie. Maar Afrikalande veroordeel ook nie mekaar se foute nie. Neem Zimbabwe as ‘n voorbeeld. Die onkritiese omgang van Afrikaregerings met bure se sondes, skep nie sakevertroue nie.

Natuurlik gebeur daar ook goeie dinge in Afrika. Die eweknie-evaluasie meganisme sou 20 jaar gelede ondenkbaar gewees het. Suid-Afrika begin uiteindelik ‘n meer aktiewe rol in Zimbabwe speel. Suid-Afrika se ekonomie beleef ook ‘n ongekende groeifase waarvoor die regering dikwels nie genoeg krediet kry nie. Dit alleen bewys dat Afrika wel oor die leiers beskik om ‘n verskil te kan maak. Trevor Manuel is sekerlik nie die enigste bevoegde leier nie.

Slegs deur goeie leierskap, kan Afrika hoop om sy probleme te aan te spreek. Spreek hierdie probleme aan, en die “image problem” verdwyn outomaties. Die vraag waaroor ek steeds wonder: “Hoekom word daar nie meer Trevor Manuels in leierskapposisies aangestel nie?”

Ten spyte van die paar swaeltjies wat te bespeur is in die blou lug, het Afrika se somer nog nie aangebreek nie. Te veel onweerswolke dreig nog op die horison.

Written by George Maru

2 Julie 2007 at 9:35

Posted in afrika, nuus

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.