Archive for Junie 27th, 2007
Die gevare van spiritualiteit?
Die afgelope naweek het ek ‘n marathon DVD-sessie aangepak om die Comrades te vier. Dit is hoe ek my solidariteit wys met mense wat lank en aanhoudend dieselfde ding doen. (Ek weet, ek weet. Die Comrades was die vorige naweek, maar ‘n vriend uit Australië het toe by my gekuier en ek was daardie Sondag vir die eerste keer in 10+ jaar kerk toe.)
Noudat TV-reekse op DVD uitgereik word, het dit blykbaar ‘n tendens geword dat mense oor ‘n naweek ‘n hele seisoen se programme gulsig opkyk. Ek hou nogals van die tendens.
So sit ek die naweek deur 750 minute se drama. Dit is lekker, want jy hoef nie ‘n week te wag om uit te vind wat gaan gebeur nie en daar is geen advertensies nie. Maar dit genees jou ook van TV-kyk vir ‘n paar weke.
Die reeks is ook nie juis besonders diep nie. Dit is waarskynlik meer in die lyn van Maeree se geliefde hygromans; behalwe dat jy nie hoef te lees nie.
In elk geval, iewers tussen die 300ste en 500ste minuut, kondig die een karakter aan dat hy Tibet toe wil gaan om vir 6 maande saam met die monnike in kloosters te mediteer. Hy het stuff, sien. Sy lover was aanvanklik nie dramaties beïndruk met die hele gedagte nie.
Dit het my laat dink aan die gevare van spiritualiteit en geloof. Dit klink vreeslik edel om sekere opofferings te maak vir dit waarin jy glo. Ek meen Siddarta was ‘n prins wat aardse rykdomme agtergelaat het om nirvana te gaan soek. In die proses moes hy heelwat ontbeer. Baie edel. Maar in sy soeke na nirvana, het hy ‘n familie agtergelaat.
Jesus was ‘n groot leermeester wat talle mense se lewens ingrypend aangeraak het. Maar Jesus was nooit getroud nie. Hy kon makliker sy hele lewe wy aan sy spirituele reis. Maar kan jy dan werklik uitsprake maak oor sake soos egskeiding?
Is dit werklik moontlik om altyd in hierdie spirituele leiers se voetspore te stap? Is dit raadsaam? Wanneer neem jou spirituele- en geloofsontberings jou verder van jou doelwit as nader daaraan?
‘n Mens kan heelwat put uit die boodskap van die Christus en die Boeddha. Daar is baie waaroor ‘n mens kan mediteer en wat jy kan toepas in jou eie lewe. Ek dink ook as jy spirituele praktyke (hetsy Boeddhisties, Christelik of watookal) gevind het wat jou liefde vir jou naaste en jouself laat groei, dan is dit goed. Maar gebeur dit nie dalk te dikwels dat ‘n mens se spiritualiteit en geloof júís die bron van ‘n mens se verwydering van self en medemens word nie? Dat dit juis die ding word waarvan jy gered moet word, en nie die voertuig is van jou redding nie?
En gewoonlik is die laaste persoon om dit uit te vind, jy.