Archive for Junie 10th, 2007
Liewe Pa, liewe Ma
Ek skryf maar ‘n brief om te sê dit wat seker nooit gesê sal word nie; dit wat ek graag wil sê. Eintlik skryf ek om te sê dat julle nie so moet worry nie. Miskien wil ek verduidelik hoekom julle my so min sien.
Ek weet julle was so trots toe julle seun vir julle vertel het hy gaan ‘n dominee word; dat hy ‘n roeping gekry het. Ek kon die trots in Pa se oë onthou. Ek weet Ma het dadelik gaan bid om dankie te sê dat die Samuelkind waarvoor julle so lank gewag het, God se stem gehoor het. Julle was goeie ouers vir die kind wat aan julle geleen is.
Julle onthou seker nog die dag in sy finalejaar toe hy vir julle kom vertel het dat hy nie meer ‘n dominee gaan word nie; maar julle het ook nie al die redes gehoor nie. Maar darem sou hy nog by die kerk betrokke wees. Vir ‘n paar maande ten minste. Saam het julle gehuil en, ‘n bietjie later, saam gelag. Julle het gesê dat dit reg is en dat julle net die beste vir julle seun wou hê; dat julle sy oordeel vertrou.
Ek weet julle worry vandag. ‘n Mens se ouers is mos nie dom nie. Dit is nou reeds meer as 10 jaar dat julle seun nie meer saam met julle kerk toe gaan nie. In die verlede sou julle sommer so oor die telefoon geloofsake bespreek. Vandag verander hy die onderwerp na die weer of tant Mien se artritis.
Hoe gaan dit met tant Mien se artritis? Dit is nou al baie jare wat sy daarmee sukkel. Ek kan onthou dat sy in dieselfde tyd begin sukkel het met die artritis as toe Ma vir my vertel het dat dit beter vir ouers is om te hoor hulle kind is dood, as om te hoor dat hy gay is.
In elk geval, Pa. Ma. Ek skryf om julle te vertel dat julle nie so moet worry nie. Julle seun is gelukkig. Julle hoef nie so bang te wees dat hy sal hel toe gaan nie. Pa. Ma. Daar is baie dinge wat die dominee en die kerk julle nie vertel nie. Ek wil julle nie skok nie, maar daar is nie ‘n hel nie. Daar is nie ‘n duiwel nie. Daar is so baie wat julle vertel word wat onwaar is. Maar ek weet dit gaan julle vreeslik ontstel.
Ag, ek sal een van die dae weer kom kuier. Ek weet julle raak ook nie jonger nie en dat ons tyd saam minder raak. Maar ek is so gatvol vir die praatjies oor die weer en tant Mien se artritis. Ek wil julle so graag voorstel aan julle seun, maar dit sal julle bitter seermaak. En dit verdien julle nie.
Maar ek sal kom kuier. Dalk kan ons dan bietjie musiek luister. ‘n Roger Whittaker-plaat. Die een waar hy sing: “No, you won’t believe in If anymore, If is for children…“
Pa. Ma.