riviersonderend

Archive for Maart 19th, 2007

Die onverklaarbare God

with 12 comments

Hoekom laat God toe dat kinders op die wreedste maniere vermoor word? Hoekom sterf kinders aan bloedkanker? In die verlede is hierdie tipe vrae met vroom gedagtes verklaar, soos dat God ‘n blommetjie in sy tuin nodig gehad het. Deesdae hoor mense God anders. God is onverklaarbaar.

“Wie is die mens om sulke vrae aan God te vra? Die mens moet berus dat God God is en onverklaarbaar is. Dit is alles deel van die misterie van God,” hoor ‘n mens.

Die misterie en onverklaarbaarheid van God is natuurlik ‘n interessante verskynsel. Mense gebruik dit graag wanneer daar nie antwoorde is nie. Tog is God nie altyd onverklaarbaar en misterieus nie. Hoe meer die mens belang het by die uitkoms van ‘n besluit of ‘n saak, hoe duideliker spreek God.

Skielik spreek God baie duidelik in sy woord oor die aangeleentheid. Die geskiedenis lê besaai met voorbeelde waar God nie so onverklaarbaar was nie. ‘n Paar honderd jaar gelede het God duidelik gepraat oor die bestaan van hekse – verbrand hulle. God was redelik stil oor slawerny – lyk nie of selfs Jesus dit eksplisiet veroordeel het nie. God het gedink dat apartheid ‘n grand idee was. Vir God is homoseksualiteit afskuwelik. Daar was niks onverklaarbaars en misterieus aan God toe die uitsprake gemaak is nie.

Daar is ander sosio-politieke kwessies waar God nog altyd duidelik gespreek het. Hy verander wel van tyd tot tyd van opinie, maar hy is altyd duidelik.

Hoe is dit dat God so geïnteresseerd is in die mens se sosio-politieke aangeleenthede dat hy duidelik en helder spreek, maar as dit gaan oor die dood van ‘n kind, dan is hy onverklaarbaar stil?

Written by George Maru

19 Maart 2007 at 9:25

Posted in godsdiens

Tagged with

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.