riviersonderend

Archive for Maart 12th, 2007

Probleme in die slaapkamer?

with 10 comments

Ek is seker dit het in die badkamer begin met die twee wasbakke (wat weer teruggevoer kan word na die manier hoe tandepasta-buisies gedruk word). Volgens die New York Times voorspel bouers en argitekte dat 60% van alle na bestelling geboude huise teen 2015 dubbel hoofslaapkamers sal hê. Blykbaar kan vrouens dit net nie meer langer uithou met manlief se middernagtelike neusserenades nie. Vrouens is natuurlik nie onskuldig nie: “Liefie, nog net twee bladsye.”

Dan is daar jou ribbebene wat in die vroeë oggendure kniekoppe groei, om nie te praat van jou droom waar jy aan die beswyk is in Everest se basiskamp nie. Die hele droom deur probeer jy verstaan wat maak jy daar, want jy is nie ‘n bergklimmer nie en jy hou nie van vreemde kulture nie. Net voordat vriesbrand (ja, ek moes die woord in die woordeboek opkyk) intree, kom jy tot jou sinne en skrik jy wakker. Jy besef dit was nie ‘n droom nie. Dit is Julie. Julle het vir die naweek weggeglip Sutherland toe en met al die komberse lángs jou opgestapel, lyk Liefie soos Everest.

Ek het baie simpatie met die tendens om van bed geskei te wees. Ek herinner my aan staptogte waar almal een gemeenskaplike slaapvertrek (die term “oornaghut” sal misleidend wees) gedeel het. Teen 2 uur neem jy maar ook jou bed op en loop soek ‘n boom, weg van die nasaalversteurdes af.

Natuurlik, kan ek aan besware teen so ‘n opset dink. Ek hou nie daarvan om in ‘n koue bed in te klim nie en dit is lekker om in die winter teen ‘n warm lyf te slaap. Wel, dit is maklik. Kry ‘n elektriese kombers en/of ‘n kat. Maar wat van ‘n bietjie vroetel en liefdesdrukkies so voor slaaptyd? Dit kan ‘n probleem wees, as jy nie wireless en twee skootrekenaartjies het nie, want die 21ste eeuse oplossing is voor die hand liggend: kuberkafoefel (cybercuddling. Ek dog daar is nie so ‘n woord nie en ek het dit sopas geskep. Toe nie. Google het my verkeerd bewys. Daar is ook heelwat verwante “cyber”-terme wat ek nie nou sal herhaal nie. Omdat ek nie weet hoe mens dit op goeie Afrikaans sal noem nie. Ek wil wel een spesiale vermelding maak van ‘n term wat ek terloops raakgeloop het: “snugglemuffin” – ‘n knuffelkoekie.)

So, slaapkamerprobleme opgelos. Ek kan dink aan ‘n vriendin wat hierdie raad behoort te waardeer. Dis ‘n plesier.

Net ‘n laaste gedagte. Blykbaar voel mense nog ongemaklik om so uit die slaapkamers te praat. In ons skeptiese wêreld kan dit die verkeerde indruk wek. So, as jy nou weer gaan kuier en jy sien ‘n Ena Murray Omnibus op die “spaarkamer” se bedkassie, dit is wat jy dink dit is, maar ook nie heeltemal nie. Selfs knuffelkoekies doen dit deesdae.

Written by George Maru

12 Maart 2007 at 8:18

Posted in praktiese wenke

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.