Eric Alva was die eerste Amerikaanse soldaat wat beseer is na die inval in Irak. Hy het in 2003 op ‘n landmyn getrap en sy been verloor. George Bush, sy vrou en Donald Rumsfeld het hom in die hospitaal besoek. President Bush het aan hom die Purple Heart toekenning gegee vir sy bydra tot Amerika. Bush en Rumsfeld het egter nie geweet nie: Alva is gay.
Indien hulle dit sou uitvind, sou hy sy werk verloor het onder die Amerikaanse weermag se Don’t ask, don’t tell beleid. Vandag probeer hy saam met Martin Meehan, verteenwoordiger vir Massachussets, om die beleid te beëindig. Ek het hier berig dat die beleid deesdae selfs deur oud-generaals bevraagteken word.
Intussen het Condoleeza Rice besluit om vertalers wat die weermag ontslaan het, moontlik in diens te neem. Hulle is ontslaan nadat dit bekend geword het dat hulle gay is, ten spyte van die weermag se tekort aan Arabiese vertalers. Verteenwoordiger Gary Ackerman het opgemerk dat die Amerikaanse weermag banger is vir gays as vir terroriste. Hy hoop nie die terroriste vind uit daarvan nie, want dan kan hulle ‘n bende lesbiërs kry om die Amerikaners uit Bagdad uit te dryf.