Archive for Maart 2007
Op die rotse
‘n Bybelse verwarring oor slawerny
Eerste berig deur Sextus Homerus oor vanjaar se Circus Ecclesiae
Vanjaar se Circus Ecclesiae beloof om baie opwindend te wees. Op die program is ‘n besinning oor slawerny. ‘n Klein, militante faksie vra dat dit afgeskaf word, wat tot groot ontsteltenis onder behoudendes gelei het.
In die middelpunt van die geskil, is die Circus Ecclesiae se Groot Boek. Dié boek bevat die wil van Jahwe, ‘n woestyngod wat tydens die Circus Ecclesiae vereer word. Jahwe praat met sy volgelinge deur die Groot Boek. Voorstanders van slawerny wys daarop dat die Groot Boek onveranderd is en nog altyd slawerny goedgekeur het:
- Die Groot Boek erken die bestaan van slawerny, en bied riglyne om dit te reguleer in beide testamente.
- Slawe mag deur hul base geslaan word, sonder dat dit as ‘n misdaad beskou word. Maar die slaaf moet ten minste 24 uur leef voordat hy/sy sterf. Anders is dit wel ‘n misdaad (Eksodus 21:20-21).
- Een van die belangrikste outeurs van die Groot Boek, naamlik Paulus, kon by verskeie geleenthede die praktyk verdoem het. Hy het nooit, dus kan ons aanvaar slawerny is deur Jahwe ingestel.
- Jesus Christus, seun van Jahwe, het nooit die praktyk veroordeel nie. Hy kon as hy wou. Geen rekord bestaan waar hy dit veroordeel het nie (vergelyk Lukas 12:45-48).
Hierteenoor argumenteer die militante faksie dat die aard van die slawerny radikaal verskil van dit wat ons vandag ken. ‘n Mens vergelyk dus appels met pere. Daarom moet slawerny afgeskaf word.
Oom Vlekkie Terre’blanche van die plaas Bloedsweet is nie oortuig nie: “Nee, magtag man, dit is ‘n humanistiese komplot wat van Europa af oorgewaai het. Deesdae word mense se belange gedien in plaas van Jahwe s’n. Hy sal ons straf daarvoor. Hy het self dit so gewil dat ons mag slawe aanhou. Jahwe verander nie van plan nie. Sy woord is sy woord; gister, vandag, more, vir altyd.”
Die Moderator wat die vrede probeer bewaar tydens die Circus Ecclesiae, weet dat hy ‘n moeilike taak het wat op hom wag: “Laat ons nie oorhaastig besluite neem nie. Kom ons luister na mekaar en hoor wat die Groot Boek vir ons wil sê.” Hy dink egter dat Dominus Alexander Campbell – ‘n Jahwe-vresende, intellektuele reus, nou reeds lank oorlede – ‘n punt beetgehad het, toe hy verklaar het: “There is not one verse in the Bible inhibiting slavery, but many regulating it. It is not then, we conclude, immoral.”
Maar dit help nie vir Oom Vlekkie nie. Hy het dringend nog slawe nodig op die plaas. Hy het nuwe stalle gebou vir sy perde, sodat hy die oues vir die slawe kan gebruik. Maar totdat die Circus Ecclesiae verby is, hang daar ‘n donker wolk oor die plaas Bloedsweet. Oestyd kom nader en Oom Vlekkie het ekstra hande nodig.
Maar vanwaar sal sy hulp kom as die Circus die ondenkbare besluit en sy slawe van hom wegneem?
Oom Vlekkie bid en vertrou dat die Circus Jahwe se Groot Boek reg sal hoor. Sê hy: “Sy wil sal geskied en sy wil is duidelik. Dit staan so swart op wit in die Groot Boek.”
Raakgelees
Rabbi Abraham Joshua Heschel:
We must not forget that it is not a thing that lends significance to a moment; it is the moment that lends significance to things.
Is jy stadig?
Groot maatskappye vra blykbaar dat hulle topbestuur minder moet werk, berig MSNBC. Blykbaar is 60-uur werksweke glad nie meer so ongewoon nie. Die probleem is dat hierdie mense dit nie kan volhou nie en na ‘n paar jaar of bedank, of hulle kreatiewe dryfkrag verloor.
Ek wonder of die pasversnelling wat so kenmerkend van ons wêreld geword het, volhoubaar is op die langtermyn? Gaan mense kan aanhou om alles beter en vinniger te doen? Gaan evolusie voorsiening maak vir supermense wat met gemak 14 ure ‘n dag kan werk? Sal die samelewing aanpas daarby en nuwe oplossings vind vir uitdagings, soos om kinders groot te maak in ‘n wêreld waar jy hulle nooit sien nie?
Ek hoop nie so nie. Ek wil nie in so ‘n wêreld leef nie. Gee my liewers ‘n wêreld waar ek 3 ure kan neem om my oggendrituele af te handel en gereed te maak vir die dag. (My idee van oggendrituele is nie om vir 2 ure in die verkeer te sit nie.) Liewers ‘n wêreld waar kos nie bedoel is om in die kar verorber te word tussen vergaderings nie en ek die son kan sien ondergaan, selfs af en toe sien opkom.
Carl Honoré meen ons moet dit stadiger vat. In sy boek, In Praise of Slow, bepleit hy ‘n lewe wat voorsiening maak vir balans. Hy verwys na stadige stede en stadige kosmaak, onder andere. Maar “Slow” gaan nie noodwendig daaroor om stadiger te wees nie, dit is eerder ‘n filosofie. Dit gaan daaroor om die oortollige dinge in jou lewe raak te sien en uit te sny en te fokus op die belangrike dinge wat saakmaak. “Slow” gaan daaroor om ‘n kwaliteitlewe in ons vinnige wêreld te hê.
Ek gaan myself van nou af as “slow” etikiteer. Ek is stadig. There, I’ve said it. Ek gaan sommer vandag die vreugdes van “slow” met my medemens deel deur by die spoedgrens te bly wanneer ek bestuur.
Sien jy jouself as “slow”? In watter opsig? Enige iets wat jy glo stadig moet gebeur, sonder uitsondering?
‘n Blog wat ek geniet
Besoek gerus Jessica Hagy se blog, indexed. Sy maak prentjies. Hier is vandag s’n:


