Archive for Januarie 2007
Misdaad in SA: aborsie se skuld
In ‘n preek gelewer 3 Desember 2006 (Jy dra die sleutel), maak Ds. Elza Meyer die volgende opmerking:
Nou julle moet asseblief gaan kyk, want ek het nie genoeg insae in al die statistiek nie, maar as jy meer insae daarin het as ek, sê my ook daarvan, maar die ouens wat die statistiek bestudeer het vertel vir my dat die bloed misdade waar mense seergemaak word en daar bloed gelaat word, dit is goed soos verkragtings en moorde en messteke en skietery en al hierdie goed, het nie na 1994 die hoogte in geskiet nie maar wel na 1996 en baie kort na die aborsiewetgewing goedgekeur is. Wat ons in wese gedoen het, toe ons aborsiewetgewing goedgekeur het, toe ons dit ‘n wet gemaak het, het ons God se beginsel, jy mag nie moord pleeg nie, weggevat en gesê dit geld nie meer nie, dit geld in elk geval nie vir ongebore babas nie. Wat in die geestesdimensie gebeur as ‘n mens sulke wette maak of sulke besluite neem, is jy trek ‘n kruis deur God se beginsels en die resultaat in die geestesdimensie is dat alle beskerming van lewe daardeur geraak word.
Wat ek verstommend vind, is dat Meyer erken dat sy nie insae het in die statistiek nie. Daar is geen duidelikheid oor die statistiek wat sy wel na verwys nie. Dit stop haar nie om in elk geval konklusies te maak op grond van hoorsê-getuienis nie. Maar sy weet aborsie is ‘n emosionele saak, dat mense haar waarskynlik nie tot verantwoording sal roep vir sulke wilde spekulasie nie. Is dit nie verstommend nie?
Op Christianity Today se webwerf verskyn daar ‘n artikel getiteld: “Evangelicals behaving badly with statistics.” Christian Smith skryf:
American evangelicals, who profess to be committed to Truth, are among the worst abusers of simple descriptive statistics, which claim to represent the truth about reality, of any group I have ever seen. At stake in this misuse are evangelicals’ own integrity, credibility with outsiders, and effectiveness in the world. It is an issue worth making a fuss over. And so I write.
En woorde wat Meyer ter harte kan neem:
In a world awash in information and burdened by myriad problems, some evangelicals may justify the problematic misuse of statistics to get people to pay attention to what they think are good causes. But this is inexcusable. Such desperation, alarmism, and sloppiness reflect the worst, not the best, in evangelicalism.
Die snaakse goed wat mense glo
Heel toevallig verskyn 2 berigte kort na mekaar op News24 oor snaakse goed wat mense glo.
Daar moet ‘n wet wees wat mense soos Francis kan vervolg.
Op ‘n ligter noot: In Athene aanbid die mense weer vir Zeus. Get a life.
Stilte
Ek het vergeet, vergeet
hoe mens jou blootstel, hoe jy jou laat beseer
deur onmatig van ‘n ander mens te hou.
Jou volsinne het my nooit die les geleer
wat jou swye my toevertrou.
Elisabeth Eybers
Ag, nie weer nie!
Eskom is alweer op hulle stukke. Wie weet wat hierdie keer aan die gang is? Maar wees nie bevrees nie, Eskom doen hulle bes.Elke keer is dit Koeberg. Dalk moet ek maar begin shop vir 6 maande se proviant, dose vol goedkoop rooi, gasmaskers en ‘n ondergrondse skuiling. Ek dink nie die lot wat daar werk weet wat hulle doen nie.
Ek kak sommer in my broek.
Violeta Parra era chilena
Ek het in CD Wherehouse ingestap, vasbeslote om ‘n CD van ‘n Argentynse kunstenaar in die hande te kry. Ek het geweet ek soek na ‘n vrou se musiek. Maar ek het nie geweet wat haar naam was nie. Dit het nie saak gemaak nie, sy het vir my gewag in die shop. Toe my oog die Best Of-CD vang, het ek nie gehuiwer nie. Ja, moet sy wees.
Mercedes Sosa het my volkome oorrompel. Toe ek begin luister, was ek verlore. Toe ek Gracias a la vida hoor was ek éérs verlore. Weke lank het ek obsessief na haar musiek geluister. Ek sou ‘n uitstekende gevallestudie vir enige sielkundige wat sy sout werd is, kon wees. My arme vriende, asook diverse lewensvorme, moes dit ontgeld. Háár hoor, mý oor haar hoor. Hoor en luister.
Haar stem vibreer met integriteit, medelye, dankbaarheid en lewe. Jy kan nie na La Negra luister en nie voel nie.In die begin was die woord en die woord het vlerke gekry, toe sy begin sing het. En die woord het gevlieg, hoog bokant die wêreld van Algeria se woude en gestremde kontinente.
Nou nog kry ek bevliegings. Dan wil ek net Mercedes luister. Maar eintlik wil ek nie oor haar skryf nie. Gracias a la vida is geskryf deur Violeta Parra, ‘n Chileense kunstenaar, gebore 1917 in San Carlos. Dit is sy op die foto.
As een van 9 kinders was haar kleintyd soms maar kak. In 1927 verloor haar pa sy werk as onderwyser. Die diktatorskap du jour het geen teenstand of andersdenkende stemme geduld nie. Haar pa gee homself oor aan songs, die kitaar en drank. Hy sterf.
Toe sy 7 was, begin sy kitaar speel en sing. Violeta, haar broers en susters sluit by die sirkus aan. Hulle sing en dans. 1934 gaan sy na Santiago waar haar broer is – die een wat later die mooi woorde oor haar sou skryf.
Sy trou 1938 met ‘n spoorwegwerker. Die huwelik hou 10 jaar. Sy het 2 kinders by hom: Isabel en Angel. Die jaar na haar egskeiding, trou sy met ‘n operasanger en kry ‘n dogter, Cármen Luisa.
In die vroeë 1950s begin sy deur Chile toer en folk songs versamel. Sy commit haarself heeltemal hieraan en glo dat kuns ván die mense, vír die mense moet wees. Sy protesteer teen die omstandighede waarin haar landgenote moet leef.
1954 toer sy oorsee. In Chile sterf haar jongste dogter, Rosita Clara, nog nie ‘n jaar oud nie. Sy blameer haar man, maar vind later uit dat haar dogter aan pneumonia oorlede is.
In die vroeë 1960s raak sy verlief op ‘n Switserse antropoloog met wie sy ‘n onstuimige verhouding aanknoop: hartseer, gelukkig, sad, bly. Hy los haar alleen. In 1966 oorval die depressie haar. Violeta se vriende en familie oorreed haar om op ‘n nasionale toer te gaan om haar op te kikker.
Sy gaan op ‘n toer, genaamd “Chile sing en lag”, tot in die verre, koue suide, Puntas Arenas. Hier oorweldig sy almal met haar stem. Toe sy terugkeer kon haar geliefdes haar omtrent nie herken nie. Sy het gestraal met energie. Sy was weer plooiloos, volgens ooggetuies.
5 Februarie 1967 hou Violeta Parra op om te sing. Vir altyd. Seg haar dogter, Cármen Luisa, later: “Ek was besig om die tent skoon te maak. Dit was rondom sesuur die aand. Toe hoor ek skielik ‘n skoot… Ek het na my ma se slaapkamer gehardloop. Daar het ek haar gekry, gebuk oor haar kitaar, met die pistool nog in haar hand. Ek het met haar gepraat, aan haar geraak, maar sy het nie geantwoord nie. Eers tóé, het ek die bloed uit haar mond sien drup. Ek was geskok en lam. Ek weet nie hoekom nie, maar my eerste reaksie was om die pistool uit haar hand te neem. Toe het ek uitgegaan en hulp gesoek. Binne enkele oomblikke was die tent vol mense, die polisie… ‘n ambulans het haar weggeneem.”
Gracias a la vida
Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my twee sterre vir oë gegee, as ek hulle oopmaak,
kan ek duidelik onderskei swart van wit,
en in die oneindige uitspansel sy sterreryk,
en in die skares die man wat ek liefhet.
Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my klanke en die alfabet gegee,
en daarmee saam woorde wat ek dink en sê,
moeder, vriend, broer, en skynende lig
oor die pad van my geliefde se siel.
Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my krag vir my moeë voete gegee
waarmee ek stap deur stede en modderpoele,
strande en woestyne, berge en valleie,
en na my geliefde se huis, straat en stoep.
Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my ‘n hart gegee wat bewe in sy fondamente,
as ek die vrug van die menslike brein aanskou,
as ek sien hoe ver goed van kwaad is,
as ek in die dieptes van my liefde se helder oë staar.
Dankie Lewe, jy het my so baie gegee,
jy’t my skaterlag en trane gegee,
waardeur ek vreugde en pyn leer ken het,
die twee elemente van my lied,
dit is my lied, en ook julle almal se lied.
¡Dankie Lewe!
Mercedes se weergawe:
