Archive for Januarie 2007
Miskien
Is dit die lewe om goed te doen vir niks
om te lewe vir niks?
Lingua Latina vivit… Not.
Vandag nog het ek ‘n baie sagte plek vir Catullus en sy geteem oor Lesbia wat hom liefhet en dan weer nie (of dalk was hy die besluitlose een). As daar nou iemand was met wie ek kon identifiseer, dan was dit Catullus en sy onbeantwoorde liefde.
Dan is daar Vergilius, skrywer van die Aeneïs. Sal ek ooit die einde vergeet waar Aeneas vir Turnus doodmaak en die debat daaromtrent? Vergilius het ‘n unieke manier gehad om deur woordplasings sy idees te kommunikeer. Het sleg toe goed oorwin, of nie? Wie weet.
En Ovidius se Metamorfoses. Die moerbeibos in die storie van Pyramus en Thisbe. Dit is natuurlik die oorsprong van Shakespeare se Romeo & Juliette.
Die Galliese Oorloë van Julius Caesar was voorgeskryf. Jy het saam met hom die veldslae beleef. Soms was jy die gewonde soldaat nadat jy paragraaf op paragraaf vertaal het.
Dit was Latyn.
Nou berig die BBC dat Latyn aan die uitsterf is. Dit mag dalk as ‘n verrassing vir sommige kom dat die taal nog nie uitgesterf het nie. Maar die Filistyne in die Vatikaan praat dit steeds, weliswaar al hoe minder.
Dit voel ongelooflik en hartseer dat ‘n wêreldtaal wat die mensheid so baie agtergelaat het, nou net bestaan in die woorde van haar grootste kinders. Niks is permanent nie.
Een van my gunsteling kortgediggies van Catullus:
LXXXV. (Ek haat en ek het lief)
odi et amo. quare id faciam, fortasse requiris.
nescio, sed fieri sentio et excrucior.
Iets vir niks
Ek het ‘n groot voorliefde vir Requiems. So luister ek vandag weer na Fauré se Requiem. Camille Saint-Saëns het die volgende opmerking oor sy Pie Jesu gemaak: “… net soos Mozart se Ave Verum Corpus die enigste een is, net so is hierdie die enigste Pie Jesu.” Of mens daarmee saamstem of nie, Fauré se Pie Jesu bly uitsonderlik.
Wat my egter opgeval het, was Fauré se bewering dat die Requiem sommer maar net geskryf is, vir niks, vir pret. Dit het my laat dink aan Herman Charles Bosman se essay:
And that is what all art is and what all religion is and what all love is – doing things “for naught.”
Politieke aktivisme
Stephen Colbert het ‘n manier om regsgesinde, konserwatiewe Amerika verkeerd op te vryf. Die resep is doodeenvoudig: word een van hulle. Min dinge kan waansin uitwys, soos om jouself met die opponent te vereenselwig. Wys aspekte uit wat die opponent verswyg, of aksentueer teenstrydighede. Vertel mense wat hulle dink, en almal weet hulle dink, maar nie hardop sê nie.
‘n Goeie voorbeeld is Dinesh D’Souza. Dinesh beweer in sy boek dat liberales wat aborsioniste, gays en ateïste insluit, verantwoordelik is vir die terreur wat Amerika getref het. In die inleiding tot sy boek, The enemy at home: the cultural left and its responsibility for 9/11, skryf hy:
In this book I make a claim that will seem startling at the outset. The cultural left in this country (such people as Hillary Clinton, Ted Kennedy, Nancy Pelosi, Barbara Boxer, George Soros, Michael Moore, Bill Moyers, and Noam Chomsky) is responsible for causing 9/11.
Hier looi Colbert vir Dinesh D’Souza oor sy nuwe boek, deur met hom saam te stem.
NOTA: Die video is verwyder van Youtube af. So jammer.
Absoluut briljant. Hierdie styl van politieke aktivisme is natuurlik ‘n kuns, nie vir enige persoon beskore nie. Dit het sy eie reëls. Dit kommunikeer die boodskap duidelik met die kyker of die leser.
As ‘n persoon hierin faal, kan dit maklik manipulerend en gemeen raak.
Ns. As jy nie naby aan 40 gekry het in hierdie opname nie, is ek bevrees, jy is deel van die probleem.
Nss. ‘n Onstellende feit: uitgewers het nie ‘n probleem om sulke kak te publiseer nie, want dit is kontroversieël en gaan dus boeke verkoop. Goeie navorsing se moer.

